AFTREDEBEPLANNING

 

‘N ZERO-GEBASEERDE BENADERING

 

Vanweë sekere veranderinge op demografiese, ekonomiese en finansiële terreine is die tradisionele opvattinge in verband met aftrede in ‘n proses van bevraagtekening.  Die feit dat mense nou langer lewe as voorheen, swakker beleggingsopbrengste en stygende inflasieverwagtinge is enkele faktore wat genoem kan word.  In Suid-Afrika is dit al ‘n geruime tyd ‘n algemene aanvaarde feit dat slegs ongeveer 6% mense heeltemal onafhanklik kan aftree. Dit sal waarskynlik in ‘n mindere of meerdere mate vir ander lande ook geld. Een van die eerste gevolge van hierdie stel faktore is die verhoging van die amptelike aftree-ouderdom in verskeie Europese lande en ‘n groeiende besef dat aftrede op die konvensionele wyse nie meer moontlik is nie.

 

v  ‘N LEWENSVERANDERINGBEPLANNING

 

In ons benadering tot aftredebeplanning het ons hierdie faktore reeds verreken en hanteer dit eerder as ‘n lewensveranderingbeplanning. Die volgende drie fases van die beplanningsproses word saam met die kliënt deurgewerk:

 

·       Bepaling van die finansiële behoeftes by aftrede

·       Opname van die beskikbare hulpbronne om aftree-inkomste te voorsien

·       Die optimale aanwending van die beskikbare hulpbronne

 

By die toepassing van die proses word die volgende uitgangspunte veronderstel.

 

-         Dat daar een of ander vorm van lewensverandering rondom die tradisionele aftree-ouderdom van  60 – 65 sal plaasvind. 

-         Dat die aftreebates wat die kliënt op die datum van aftrede het, die basis van die beplanning vorm.

-         Dat die beskikbare aftreebates moontlik nie voldoende sal wees om die verwagte inkomste te voorsien nie.

 

v  BEPLANNINGSPROSES

 

·       Bepaling van die finansiële behoeftes by aftrede

 

Hierdie bepaling word gedoen aan die hand van inligting wat van die kliënt ontvang word en sal normaalweg items soos behuising, vervoerkoste, gewone lewenskoste, moontlike studiegelde van kinders, delging van lenings, mediese koste, ens. insluit.  In laasgenoemde geval sal sy gesondheidstoestand en dié van sy afhanklikes in ag geneem word.  Die lewensverwagting van die kliënt en die verwagte inflasiekoers sal ook belangrike faktore wees.

 

·       Opname van die beskikbare hulpbronne vir aftree-inkomste

 

By aftrede sal bepaal moet word welke bates aangewend kan word vir die voorsiening van inkomste.  Die volgende is tipiese aftree-bates:

 

-             Tradisionele aftreefondse soos pensioen-, voorsorg of uitree-annuïteitfondse

-             Beleggings, uitkeerversekering en deposito’s by banke

-             Eiendomme

-             Lenings verskuldig aan die kliënt

-             Die kliënt se persoonlike verdienstevermoë

 

In die geval van tradisionele aftreefondse (ook genoem verpligte geld) is daar wetlike vereistes wat nagekom moet word om die fondse te benut vir aftrede.

 

·       Die optimale aanwending van die beskikbare hulpbronne

 

Die verskillende tipes aftree-hulpbronne soos hierbo genoem verg elkeen sy eie wyse van hantering ten einde dit optimaal te benut.

 

Tradisionele aftreefondse

Versekeringsmaatskappye en beleggingshuise bied ‘n groot verskeidenheid aftree-produkte aan en ‘n keuse wat die kliënt se behoeftes pas, kan met behulp van ‘n makelaar wat in aftree-voorsiening spesialiseer gedoen word. 

 

Beleggings, uitkeerpolisse en deposito’s by banke

Afhangende van die kliënt se behoeftes moet van hierdie bates dalk te gelde gemaak of geherstruktureer word.

 

Eiendomme en lenings verskuldig aan die kliënt

Hierdie bates kan inkomste- of nie-inkomsteproduserend wees en indien nodig, sal laasgenoemde bates dalk te gelde gemaak moet word.

 

-  Die kliënt se verdienvermoë

Indien dit blyk dat die inkomste wat uit bogenoemde bates gegenereer kan word nie in die kliënt se behoeftes kan voorsien nie, sal hy moet voortgaan om ‘n inkomste te verdien.  Anders sal hy dalk van sy kapitaal moet gebruik.

 

v  ONAFHANKLIKE ADVIES

 

FJS Finansiële Dienste kan die kliënt met professionele advies en administratiewe dienste bystaan om die aksies en prosedures uit te voer wat deur die verskillende fases van die beplanningsproses vereis word.  Daarvoor ontvang ons ‘n professionele fooi waarop vooraf ooreengekom kan word.  Ons ontvang geen kommissie van produkverskaffers nie en is dus in staat om volkome onafhanklike advies te gee.

 

*********************************************

 

 

Vir meer besonderhede of vir ‘n onderhoud skakel ons asseblief by:

 

Telefoon : 022 – 913 2353           Faks : 022 – 913 1482                  Sel : 082 – 493 3785

 

E-pos:strausse@xsinet.co.za                Langstraat 101, Piketberg

 

www.waardeskepper.co.za

 

**************************************

EIENAAR:

 

FRIKKIE STRAUSS : MA, B.Compt, NDFB, CFP, Professionele Rekenmeester

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za