Die Waardeskepper

                                KOLLIG OP FINANSIËLE BEPLANNING

 

AUGUSTUS 2011

 

 
 

Die Waardeskepper is ‘n periodieke aktualiteitsoorsig waarin daar hoofsaaklik geskryf word oor onderwerpe wat verband hou met finansiële beplanning vir individue en besighede.   Artikels is gewoonlik van tweeledige aard.  Eerstens handel dit oor onderwerpe wat van algemene en aktuele belang vir ons kliënte en ander lesers is.  Tweedens word daar berig oor nuwe professionele produkte en ander verwikkelinge by FJS Finansiële Dienste. 


In hierdie uitgawe:

 

·     RE-AKTIEWE BELASTINGBEPLANNING : Die laaste vesting teen die fiskale aanslag.

Die derde fase van die belastingbeplanningsproses word in hierdie artikel bespreek.

 

·     BOEDELBEREDDERING : Baie ruimte vir skeppende denke.

Die eerste in ‘n reeks van drie artikels oor beplanning in die boedelberedderingsproses.

 

 

 

******************************************

 


RE-AKTIEWE BELASTINGBEPLANNING

 

DIE LAASTE VESTING TEEN DIE FISKALE AANSLAG

 

In die vorige uitgawes van DIE WAARDESKEPPER het ons oor belastingbeplanning geskryf.  Ons het gesê dat die hoofdoel van belastingbeplanning is om die hoogsmoontlike na-belaste inkomste vir die belastingpligtige te verseker.  Daarom is belastingbeplanning ‘n positiewe, waardeskeppende proses.  Soveel moontlik inkomste word uit die boeke van die belastingpligtige verwyder ten einde die geld in sy sak te vermeerder.  Die kern van die strategie is, om teen die laagsmoontlike koste vir die belastingbetaler, strome van belasbare inkomstes in strome van nie-belasbare inkomstes te omskep en strome van nie-aftrekbare uitgawes in strome van aftrekbare uitgawes.

 

Ons het verder gesê dat daar volgens die tydstip waarop belastingbeplanning gedoen word, tussen drie vorms van belastingbeplanning onderskei kan word, naamlik strategiese beplanning, taktiese beplanning en re-aktiewe beplanning.

 

Strategiese belastingbeplanning is langtermynbeplanning.  Dit is nie net gerig op belastingbe-sparing in ‘n spesifieke jaar nie, maar het fundamentele, strukturele veranderinge ten doel wat belastingbesparings oor die leeftyd van ‘n onderneming kan skep.  Dit kan onder andere ‘n verandering van ondernemingsvorm behels, soos om oor te skakel van ‘n eenmansaak na ‘n maatskappy, beslote korporasie of trust of om in ‘n ander land te gaan besigheid doen.

 

Taktiese belastingbeplanning is van korttermynaard en is gerig op belastingbesparings in ‘n spesifieke belastingjaar.  Dit wentel hoofsaaklik om tydsberekeningsaksies.  Indien dit byvoorbeeld uit ‘n ondernemer se tussentydse inkomstestaat blyk dat hy op ‘n groot belasbare inkomste in die lopende finansiële jaar afstuur, kan uitgawes vervroeg of inkomste vertraag word.  Dit beteken dat aksie vóór die einde van die belastingjaar geneem moet word.

 

Re-aktiewe belastingbeplanning vind gewoonlik ná die einde van die belastingjaar plaas en is daarop gerig om die belasbare inkomste deur rekeningkundige aansuiwerings te verminder.  Wanneer ‘n onderneming se finansiële jaareinde verby is, kan daar geen operasionele aksies meer geneem word om belastingpligtigheid te verminder nie.  Deur die doen van sekere rekeningkundige aansuiwerings kan beduidende belastingverminderings egter teweeg gebring word.  Dit sal hoofsaaklik uit ‘n oorweging van die waarde van balansstaatitems voortvloei.  Voorbeelde daarvan is die volgende:

 

Vaste bates

Depresiasie op vaste bates kan afgeskryf word indien dit nog nie gedoen is nie.  Indien dit wel gebeur het, moet seker gemaak word dat die maksimum toelaatbare afskrywings gedoen is.

 

Handelsvoorraad

Voorraadlyste kan deurgewerk word om te kyk vir onverkoopbare, beskadigde of verouderde voorraad en die nodige afskrywings kan gedoen word.

 

Debiteure

Debiteurelyste kan deurgekyk word vir oninbare en potensieël oninbare skulde en die gepaste afskrywings en voorsienings gedoen word.

 

Langtermynlenings

Rekonsiliasies moet gedoen word om te verseker dat alle rentes en kostes wat teen die lenings belas is, wel in die boeke opgeneem is.

 

Krediteure en agterstallige uitgawes

Daar moet seker gemaak word dat alle uitgawes wat voor die jaareinde aangegaan is, maar eers na die jaareinde betaal is, in die boeke opgeneem word.

 

Voorwaardelike verpligtinge

Moontlike toekomstige verpligtinge wat verband hou met  waarborge en potensiële defekte aan produkte en dienste wat gelewer is, kan ook by wyse van voorsienings in die boeke verreken word.

 

Voordat ondernemers die finansiële state aanvaar wat deur hulle rekenmeesters aan hulle voorgelê word, moet hulle die waardes waarteen bates en laste op hulle balansstate verskyn, deeglik oorweeg en by hulle rekenmeesters seker maak dat al die nodige aansuiwerings wat die belastingverpligting kan verminder, daarop gedoen is.

 

Deur re-aktiewe belastingbeplanning kan belasting bespaar word.  Die beweegruimte is egter beperk en baie meer belasting kan bespaar word deur pro-aktiewe, langtermyn strategiese beplanning, aangevul deur taktiese en re-aktiewe beplanning.  Oor die dienste wat FJS Finansiële Dienste in hierdie opsig lewer, kan meer gelees word op ons webtuiste onder die item Belastingbeplanning : ‘n Baie winsgewende belegging.

 

*****************************************************

 

BOEDELBEREDDERING

 

BAIE RUIMTE VIR  SKEPPENDE DENKE

 

Die afhandeling van ‘n bestorwe boedel kan somtyds baie lank neem, groot ontwrigting by agtergeblewenes veroorsaak en konflik tussen erfgename tot gevolg hê.  Daar is baie keer ook ongelukkigheid en ontevredenheid met die werkswyse van die eksekuteur.  Daarby kan dit baie duur wees as gevolg van boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en eksekuteurs-fooie.  Verder kan die uitvoering van die testament bemoeilik word deur prakties-onuitvoerbare bepalings daarin en ‘n gebrek aan kontant in die boedel.  Hierdie probleme kan in ‘n groot mate voorkom word deur behoorlike en tydige voorafbeplanning vir die sterfte- gebeurtenis.  Die aksies wat met sodanige beplanningsproses gepaardgaan, val in drie kategorieë uiteen, naamlik boedelbeplanning, boedelvoorbereiding en die keuse van ‘n eksekuteur.  In hierdie artikel word die boedelbeplanningsaksies bespreek.


In boedelbeplanningskringe word verskillende betekenisse aan die begrip boedelbeplanning gegee en sommige van hulle is baie wyd.  In hierdie artikel word die betekenis beperk tot beplanning vir die oordrag van bates by afsterwe.  So beskou, is die hoofdoelwitte van die proses soos volg:

 

·         Om te voorsien in die lewensbehoeftes van afhanklike agtergeblewenes.

 

·         Om bates op ‘n ordelike en praktiese wyse te laat oorgaan op die erfgename, volgens die wense van die erflater.

 

·         Om boedelkostes, dit wil sê belastings en eksekuteursfooie te beperk.

 

Ten einde hierdie doelwitte te bereik, is daar ‘n wye spektrum van beplanningstegnieke tot die beskikking van die boedeleienaar.  Enkeles word hier genoem as voorbeelde:

 

·       Deur die oprigting van ‘n inter vivos trust (lewende trust) kan inkomstegenerende bates vir agtergeblewenes beskerm word, ‘n gladde oorgang van bates verseker word en boedel- en kaptiaalwinsbelasting beperk word.  Indien ‘n inter vivos trust as gevolg van koste-oorwegings nie kan werk nie, kan die beskerming van die inkomste aan agtergeblewenes nog steeds deur ‘n testamentêre trust bewerkstellig word.

 

·       Deur die uitneem van lewensversekering kan daar ook in die behoeftes van agterge-blewenes voorsien word, asook verseker word dat daar genoeg kontant sal wees om alle boedelskulde en -kostes te betaal.

 

·     Deur goeie aftreebeplanning en die begunstiging van polisse aan agtergeblewenes kan baie eksekuteursfooie bespaar word en terselfdertyd in die behoeftes van agterge-blewenes in die periode onmiddellik na afsterwe van die erflater voorsien word.

 

‘n Professioneel-opgestelde testament is gewoonlik die eindpunt van die beplanningsproses.  Vanweë die omvangryke en komplekse statutêre raamwerk waarbinne die proses moet geskied, sal dit egter vir die gewone boedeleienaar raadsaam wees om van die dienste van ‘n kundige en ervare boedelbeplanner gebruik te maak.

 

******************************************************

 

 

Die Waardeskepper word uitgegee deur FJS Finansiële Dienste.  Die inligting is vir algemene gebruik en die redakteur kan nie verantwoordelik gehou word vir die gevolge van besluite wat op grond daarvan geneem word nie.  Dit word aanbeveel dat professionele advies in verband daarmee ingewin word.

 

FJS Finansële Dienste  lewer ‘n omvattende persoonlike en korporatiewe finansiële beplanningsdiens wat belasting- boedel-, beleggings-, eiendoms- en aftreebeplanning insluit.  Die redakteur is Frikkie Strauss, professionele rekenmeester, belastingkonsultant en gesertifiseerde finansiële beplanner van Piketberg.  Hy kan gekontak word by 022 – 913 2391 / 082 – 493 3785 of strausse@xsinet.co.zaVorige uitgawes van Die Waardeskepper kan daar gelees word.

 

 

 

ONS SKEP WAARDE DEUR KENNIS

 

 

 

 

Description: C:\Websites\waardeskepper\px\hr.gif

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za