EIENDOMSBEPLANNING

 

‘N ONAFHANKLIKE PROFESSIONELE DIENS

 

Die eiendomsbedryf is ‘n baie gefragmenteerde bedryf wat vanuit verskillende professies bedien word.  Daar is ‘n behoefte aan ‘n meer omvattende en geïntegreerde professionele diens op hierdie gebied.  Ons by FJS Finansiële Dienste wil dit graag lewer deur die toepassing van ons kennis en ervaring op die gebied van eiendomsbemarking, waardasies, belasting, beleggings en finansiële bestuur.  Hierdeur bring ons ook ons eiendomsdienste in lyn met ons ander professionele dienste deurdat ons afstap van die kommissiebasis en die fooiebasis aanneem.

 

Die diens is gerig op residensiële, industriële, kommersiële en landbou-eiendomme en ons kan die volgende spesifieke dienste aan die eiendomsgemeenskap (kopers, verkopers en beleggers) lewer:

 

v BEMARKING VAN EIENDOMME

Ons kan verkopers van eiendomme adviseer oor ‘n gepaste strategie om kopers vir hulle eiendomme te vind en hulle help om dit te implementeer.

 

v KOPERSONDERSTEUNING

Ons kan kopers help met die vind van eiendomme en met die voorbereiding van aanbiedinge.

 

v LEWENSVATBAARHEIDSTUDIES

Hierdie diens kan ons lewer aan instansies wat langtermyn kommersiële beleggings in eiendomme wil doen.

 

v FASILITERING VAN TRANSAKSIES EN EIENDOMSOORDRAGTE

Ons kan optree as tussenganger in onderhandelinge tussen kopers en verkopers en in gevalle waar eiendomsagente se dienste benodig word om kopers of verkopers te vind, kan ons namens ons kliënte beding vir die laags-moontlike kommissie. Verder kan ons deur onderlinge skakeling en koördinering tussen die persone en instansies wat by eiendomsoordragte betrokke is, help om die oordragproses te bespoedig.  Deur ons assosiasie met bekwame aktebesorgers kan die doeltreffendheid van die proses verder verhoog, laer oordragskoste beding en betroubare regsadvies verkry word.

 

v DIE EKONOMIE VAN DIE EIENDOMSMARK

Pryse van eiendomme word grootliks bepaal deur die ekonomiese siklus (opswaaie en afswaaie), rentekoerse, inflasie, beskikbaarheid van krediet, ens.  Die tydsberekening van ‘n eiendomstransaksie het besliste kommersiële gevolge.  Om op die hoogtepunt van ‘n pryssiklus te koop, kan baie onaangename gevolge hê.  Dit is ongelukkig nie moontlik om prysbewegings korrek te voorspel nie, maar deur ‘n ingeligte en realistiese siening daaroor te neem, kan risiko’s egter wesenlik beperk word.

 

v WAARDASIES

Die bepaling van realistiese markwaardes van eiendomme vorm die basis van suksesvolle eiendomstransaksies.  Ons kan aan kopers en verkopers van eiendomme onafhanklike, onpartydige en professionele waardasies gee.

 

v BELASTINGBEPLANNING

‘n Hele aantal belastings het ‘n direkte of indirekte impak op die koste van eiendomstransaksies en die wyse waarop kontrakte opgestel word, kan ook die omvang daarvan bepaal.  Ons kan kliënte bystaan in beplanning met die oog op die laags-moontlike belastinglas.

 

v EIENAARSKAP

Die vorm van eienaarskap van eiendomme het belangrike gevolge vir die beheer en benutting daarvan.  Die aankoop van ‘n eiendom in ‘n persoon se eie naam of in die naam van ‘n maatskappy, beslote korporasie of trust het ook belangrike belasting- en boedelbeplanningsgevolge.  Ons kan die kennis verskaf wat nodig is vir die neem van oordeelkundige besluite in hierdie verband.

 

v GENOTEERDE EIENDOMME

‘n Belegging in genoteerde eiendomme bied ‘n maklike, likiede blootstelling aan kommersiële eiendomme met min kapitaal en teen lae kostes terwyl ‘n stabiele inkomste daaruit verdien kan word.  Dit verg egter ingeligte en oordeelkundige keuses en daarmee kan ons voornemende beleggers bystaan.

 

v WATTER VOORDELE IS DAAR VIR DIE EIENDOMSGEMEENSKAP ONDER ONS EIENDOMSBEPLANNINGSDIENS?

Die eiendomsbeplanningsdiens soos hierbo uiteengesit verteenwoordig ‘n radikale breuk met die gevestigde benadering tot eiendomme.  Dit is ‘n fooie-gebaseerde, kennis-gedrewe benadering teenoor die oorwegend kommissie-gebaseerde, verkoopsgedrewe konvensionele benadering.  Ons glo dat ons deur onafhanklike, professionele advies vir kliënte waarde kan skep. Besluite gebaseer op inligting wat verkry is op ‘n onafhanklike en objektiewe wyse en waarin persoonlike belang nie ‘n rol speel nie is gewoonlik waardeskeppende besluite. Deur die uitskakeling of vermindering van kommissie kan eiendomstransaksies ook daardeur vergemaklik word en wesenlike finansiële voordele vir kopers en verkopers kan daaruit voortvloei.

 

 

*************************

EIENAAR:

 

 

FRIKKIE STRAUSS : MA, B.Compt, NDFB, CFP :  Professionele Rekenmeester

 

 

Ons het ook kantoorfasiliteite in Bellville

 

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022) 913 2353/913 2391 | Faks: (022) 913 1482 | Sel: 082 493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za