|
|
Die Waardeskepper
KOLLIG OP FINANSIËLE BEPLANNING
VERSTERK KONTANTVLOEI DEUR TAKTIESE BELASTINGBEPLANNING
In die vorige uitgawe van Die Waardeskepper is die onderwerp van belastingbeplanning in die algemeen behandel. Daar is onderskei tussen drie vorms van belastingbeplanning, naamlik strategiese, taktiese en re-aktiewe beplanning. In hierdie artikel word taktiese beplanning bespreek.
Taktiese belastingbeplanning is van korttermyn aard en is gerig op belastingbesparings in ‘n spesifieke finansiële jaar. Dit bestaan hoofsaaklik uit tydsberekeningsaksies. Indien ‘n ondernemer byvoorbeeld ‘n groot belasbare inkomste vir die huidige belastingjaar, wat op 28 Februarie eindig verwag, kan hy oorweeg om sekere uitgawes te vervroeg of inkomste te vertraag. Slegs enkele voorbeelde word benoem:
- Indien ‘n ondernemer weet dat hy ‘n nuwe voertuig of ‘n stuk toerusting nodig het en hy is ‘n boer of ‘n kleinsake-korporasie kan dit vir hom ‘n groot belastingbesparing meebring deur dit voor 28 Februarie te koop, want hy kan 50% van die koopprys van die bate teen die huidige jaar se inkomste afskryf. Aan die anderkant, indien hy ‘n kapitaalitem moet verkoop, sal dit beter wees om dit na 28 Februarie te doen, want hy kan moontlik belasbaar wees op die herwinning van die slytasietoelaag wat hy voorheen daarop geëis het. Die oorskuif van inkomste van een finansiële jaar na ‘n volgende een kan natuurlik weer ‘n belastingprobleem in die volgende finansiële jaar veroorsaak. Dit gee egter aan ondernemers die geleentheid om ‘n behoorlike langtermyn strategiese beplanning te doen, waarin hierdie probleem aangespreek kan word.
- In die geval van ‘n kontrakteur kan hy oorweeg om werk wat hy voor 28 Februarie voltooi het eers in Maart uit te faktureer.
Belastingoorwegings moenie altyd die hoofoorweging vir sekere aksies wees nie. Dit moet terselfdertyd uit ‘n kommersiële en kontantvloei-oogpunt ook sin maak. Daarom moet die aankope van groot kapitale items op ‘n oordeelkundige wyse beplan en gefinansier word.
Benewens korporatiewe belastingaksies kan sekere persoonlike aksies ook geneem word.. Die aankoop van uittree-annuïtiete is ‘n voorbeeld hiervan. Heelwat kritiek kan teen die tradisionele uitree-annuïteite ingebring word. Die nuwe generasie uittree-annuïteite skep egter geleenthede wat nie misgekyk moet word nie. Dit kan die onderwerp van ‘n volgende artikel in Die Waardeskepper vorm. Die uitneem van ‘n redelike groot enkelpremie uittree-annuïteit voor 28 Februarie kan ‘n beduidende verskil aan ‘n persoon se belastinglas maak.
Die neem van gepaste aksies voor 28 Februarie kan ‘n wesenlike en onmiddellike kontantvloei voordeel meebring, want op 28 Februarie moet die tweede voorlopige belastingbetaling gemaak word en as ‘n ondernemer se beraamde belasbare inkomste vir die jaar aanmerklik verminder kan word, kan sy voorlopige belasting ook baie minder word.
Ten slotte: Ondernemers moet aksies in hierdie saak self inisieër en nie op hulle rekenmeesters en belastingadvisieurs wag om dit te doen nie. Hulle is gewoonlik hierdie tyd van die jaar druk besig met voorlopige belastings.
********************************************* BELASTINGBEPLANNING : ‘N PRO-AKTIEWE PROSES
FJS Finansiële Dienste lewer ‘n omvattende belastingbeplanningsdiens wat daarop gerig is om die gewone man teen ‘n bekostigbare fooi te help om sy belastinglas so laag as moontlik te hou. Die proses wat ons toepas, bestaan uit die volgende elemente:
· Spesifieke en doelgerigte aksie wat daarop gerig is om, binne die gegewe statutêre raamwerke, soveel moontlik inkomste uit die boeke van die belastingpligtige te verwyder ten einde die geld in sy sak te vermeerder.
· Alle belastings wat moontlik op ‘n kliënt van toepassing mag wees, word daarby betrek. Dit sluit onder andere inkomstebelasting, boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en geskenkebelasting in.
· Dit is ‘n omvattende, gestruktureerde proses. Dit bestaan nie uit ad hoc belastingskemas nie, maar is ‘n globale benadering.
· Dit is ‘n zero-gebaseerde proses. Daar word na ‘n onderneming gekyk asof daar geen belastingstrategieë in plek is nie, ten einde te verseker dat alle beskikbare belastingbe-sparingsgeleenthede benut word.
· Dit is ‘n verantwoordelike proses. Ons eksperimenteer nie met twyfelagtige belastingskemas nie.
· Ons fooie is mededingend en ons is bereid om vooraf kwotasies vir ons dienste te gee.
Ons ervaring van meer as vyf-en-dertig jaar van rekenmeesters- en belastingwerk is dat weinig belastingbetalers die bestaande belastingbesparingsgeleenthede ten volle benut. In bykans alle gevalle waar kliënte ons nader, bestaan daar ruimte om verdere waarde deur goeie beplanning te skep. Meer besonderhede oor ons belastingbeplanningsdiens verskyn op ons webtuiste onder die item, Belastingbeplanning: ‘n Baie winsgewende belegging.
Ondernemers wat advies in verband met taktiese belastingbeplanning voor 28 Februarie verlang, kan ons by die onderstaande nommers skakel.
Die Waardeskepper word uitgegee deur FJS Finansiële Dienste. Die inligting is vir algemene gebruik en die redakteur kan nie verantwoordelik gehou word vir die gevolge van besluite wat op grond daarvan geneem word nie. Dit word aanbeveel dat professionele advies in verband daarmee ingewin word
FJS Finansiële Dienste lewer ‘n omvattende persoonlike en korporatiewe finansiële beplanningsdiens wat belasting- boedel-, beleggings-, eiendoms- en aftreebeplanning insluit. Die redakteur is Frikkie Strauss, professionele rekenmeester, belastingkonsultant en gesertifiseerde finansiële beplanner van Piketberg. Hy kan gekontak word by 022 – 913 2391 / 082 – 493 3785 of strausse@xsinet.co.za
Meer volledige inligting oor die dienste wat FJS Finansiële Dienste bied, verskyn op ons webtuiste by www.waardeskepper.co.za Vorige uitgawes van Die Waardeskepper kan ook daar gelees word.
ONS SKEP WAARDE DEUR KENNIS
PIKETBERG
![]() |