BO BLINK ONDER GLINSTER

 

 

v INLEIDING

 

Die steeds stygende goudprys is tans ‘n belangrike onderwerp van bespreking in die finansiële markte.  Die vraag  in almal se gedagtes is:  Gaan die goudprys verder styg en indien wel, tot welke vlakke?  Die antwoord op dié vraag sal bepaal of beleggers in goud en goudverwante instrumente sal belę of nie. 

 

Die rigting wat die goudprys sal inslaan, lę in die toekoms en die toekoms is aan ons almal onbekend.  Daarom sal ons nie ‘n uitspraak daaroor waag nie. Die prys van goud word egter deur sekere definitiewe, identifiseerbare faktore beďnvloed.  Solank hierdie faktore die goudprys ondersteun, sal dit waarskynlik bly styg.  Indien die faktore negatief draai, sal die prys waarskynlik daal.   In hierdie evaluering sal die onderliggende faktore ontleed en die verwagte invloed daarvan op die goudprys beoordeel word.  Die evaluering sal aan die hand van die volgende temas gedoen word:

 

¨       Die aard van goud en die funksie wat dit in die finansiële markte vervul.

¨       Die vernaamste rolspelers in die goudmarkte

¨       Die faktore wat die prys van goud in die algemeen beďnvloed

¨       Die vernaamste faktore wat vir die huidige styging in die goudprys verantwoordelik is en die verwagte volhoubaarheid daarvan

¨       ‘n Goud as ‘n beleggingsbate

 

 

v DIE AARD EN FUNKSIE VAN GOUD IN DIE FINANSIËLE MARKTE

 

Goud is sedert die vroegste tye aan mense bekend en speel ‘n belangrike rol in mense se lewens. Ons lees reeds daarvan in die tweede hoofstuk van die eerste boek van die Bybel tot in die tweede laaste hoofstuk van die laaste boek van die Bybel.  Dit is hoogs onwaarskynlik dat goud in hierdie dispensasie van die mens se bestaan sy waarde sal verloor. Saam met silwer, platinum en enkele ander metale word dit in die kategorie van edelmetale geplaas.  In die Westerse lande is daar min mense wat nie ‘n artikel besit wat goud bevat nie.    Ook in Oosterse lande soos China en Indië word goud in toenemende mate as ‘n statussimbool beskou en skerp groei In die aanvraag na goud word ondervind.  Vanweë sy duursaamheid en besondere aantreklike voorkoms het goud verskillende waardes in die menslike samelewing aangeneem.  Die vernaamste daarvan is die volgende:

 

·         Goud is ‘n aanvaarde betaalmiddel.  Sedert die vroegste tye is goud as betaling vir goedere en dienste aanvaar.  Die toetrede van papiergeld het hierdie funksie van goud in ‘n groot  mate oorgeneem, maar vir baie eeue daarna was die geldeenhede van die meeste lande nog op een of ander wyse aan goud gekoppel.  Sentrale banke hou vandag nog duisende tonne goud as reserwebetaalmiddel.

 

·         Goud word beskou as ‘n beleggingsbate.  Mense koop goud omdat hulle vertroue het in die stabiliteit van die finansiële waarde van goud.  Goud word gesien as ‘n verskansing teen moontlike finansiële verliese in tye van politieke en ekonomiese onsekerheid. Mense glo ook dat dit op die langtermyn in waarde sal toeneem.  Goud verdien nie rente of dividende nie en dit kan nie verhuur word soos ‘n huis of ‘n gebou nie. Sy beleggingsopbrengs is wesenlik geleë in sy potensiaal tot waardevermeerdering of kapitaalgroei.

·         Goud word gesien as ‘n spaarmedium.

 

·         Die besit van goud word geassosieër met welvaart.

·         Goud het versierings-, prestige- en seremoniële waarde.  Daarom word dit in  juwele  en ander kunsvoorwerpe gebruik.

 

·         Goud het industriële waarde.

 

 

v DIE VERNAAMSTE ROLSPELERS IN DIE GOUDMARK

 

Die rolspelers in die goudmark kan basies in twee groepe verdeel word naamlik die verskaffers van goud en die kopers of gebruikers van goud. 

 

Die verskaffers van goud val hoofsaaklik in die volgende kategorieë:

 

·         Produksie deur goudmyne

·         Verkope deur sentrale banke

·         Herwinning van goud in die vorm van skrootmetaal, komende van juweliers en ander goudindustrieë.

·         Verkope deur spekulante en beleggers in beursverhandelde fondse (BvFe)

 

Die kopers/verbruikers van goud val weer in die volgende hoofgroepe:

 

·         Sentrale banke

·         Beleggers, hoofsaaklik in die vorm van portefeuljebestuurders, verskansingsfondse, pensioenfondse, beursverhandelde fondse en soewereine welvaartsfondse

·         Goudhandelaars en spekulante.

·         Juweliers.

·         Private individue.

 

Vir elkeen van hierdie groepe het goud ‘n ander betekenis en waarde en koop hulle goud om ander redes.  Hulle het egter een gemeenskaplikheid:  Indien hulle verwag dat die prys van goud sal styg, sal hulle die metaal koop en die prys sal waarskynlik verder styg.  Indien hulle egter verwag dat die goudprys sal daal, sal hulle hulle goud verkoop en die prys sal waarskynlik begin daal.  Dit is daarom belangrik om te weet watter faktore die prys van goud in die algemeen beďnvloed en ook wat die vernaamste aandrywers van die huidige styging in die goudprys is.

 

 

v DIE FAKTORE WAT DIE PRYS VAN GOUD IN DIE ALGEMEEN BEĎNVLOED

 

Goud val in ‘n klas van sy eie.  By ander bateklasse soos aandele, effekte en eiendomme is daar fundamentele maatstawwe om die beleggingswaarde daarvan te bepaal.  Die belangrikste daarvan is die verwagte potensiële verdienste daarop.  Dit word op sy beurt weer deur sekondęre, maar ook redelik identifiseerbare maatstawwe bepaal, hoofsaaklik op makro-ekonomiese gebied. Goud het nie ‘n verdienste-opbrengs nie en gevolglik oefen ekonomiese faktore nie ‘n oorheersende invloed op sy prys uit nie. Die prys van goud word bepaal deur ‘n unieke stel faktore, wat verwant is aan die spesifieke waardes wat dit vir verskillende rolspelers het.  Dit kan soos volg saamgevat word:

 

·         Indien vertroue in ander betaalmiddele afneem, sal die prys van goud styg en andersom.

·        Indien die inflasiekoers styg, sal die prys van goud ook styg, en andersom.

·        Indien die waarde van ander beleggingsbates, in die vorm van verdienste-opbrengste en kapitaalgroei daal, sal die prys van goud styg, en andersom.

·        Wanneer groot onsekerhede op politieke, ekonomiese en finansiële terreine węreldwyd intree, sal die goudprys styg.  Indien sekerheid terugkeer, daal dit gewoonlik weer.

·        Indien die aanvraag deur juweliers en ander industrieë toeneem, sal die prys van goud styg, en andersom.

·        Die aanbod van goud is ‘n belangrike prysbepalende faktor.  Indien die aanbod daal, sal die prys styg, en andersom.  Wanneer die aanbod daal en die aanvraag  terselfdertyd toeneem, kan daar dramatiese prysstygings kom.  Die werking van hierdie faktore in die huidige situasie sal vervolgens ondersoek word.

 

 

v DIE HUIDIGE AANDRYWERS VAN DIE GOUDPRYS EN DIE VOLHOUBAARHEID DAARVAN

 

Ř  DIE WAARDE VAN ANDER GELDEENHEDE

 

Sentrale banke en valutahandelaars hou hulle reserwes in die vorm van goud en geldeenhede waarvan hulle glo dat die waarde óf stabiel sal bly óf sal toeneem.  Die drie vernaamste geldeenhede wat vir hierdie doel gehou word, is die Amerikaanse Dollar, die EEG se Euro en die Japanse Jen.  Vanweë verskeie faktore het die waarde van hierdie geldeenhede onder druk begin kom.  In hierdie verslag word daar hoofsaaklik op die Amerikaanse Dollar gefokus en ook slegs op die twee belangrikste faktore wat die Dollar laat verswak, naamlik die proses van geldskepping in Amerika en die groot Amerikaanse staatskuld.

 

·     Geldskepping

 

Ten einde ‘n totale ekonomiese ineenstorting tydens die kredietkrisis van 2008 en 2009 te voorkom, het die Amerikaanse Reserwebank triljoene nuwe Dollars gedruk en daar word steeds daarmee voortgegaan.  Dit het gevolg op die geweldige kredietskepping in Amerika gedurende die voorafgaande aantal jare.  Hierdie geldskeppingsproses, sonder die gepaardgaande skepping van nuwe bates, het swaar geweeg op die Dollar en daarom het die Dollar-indeks, wat sy waarde teenoor ander geldeenhede meet, sedert 2001 verminder van 120 na sy huidige ongeveer 80, dit wil sę met een-derde.  Bill Gross, bestuurder van die węreld se grootste effektetrust, sę dat as Amerika voortgaan met sy huidige tempo van geldskepping, die Dollar binne die volgende paar jaar 20% van sy huidige waarde kan verloor.

 

·     Amerikaanse staatskuld

 

Soos baie Westerse regerings spandeer die Amerikaanse regering jaarliks baie meer as hulle inkomste.  Dit veroorsaak begrotingstekorte wat uit lenings gefinansier moet word.  Vir hierdie jaar alleen is die beraamde begrotingstekort $1,6 triljoen of 11% van BBP.  So onlangs soos 2007 was dit slegs 1%.  Volgens die berekening van Amerikaanse staatskuld wat algemeen in beleggingskringe aanvaar word, staan dit tans op $13 triljoen.   Sedert 2007 alleen het dit met $4,3 triljoen toegeneem, en dit is nog steeds besig om toe te neem.  In ‘n Mineweb-artikel skryf die bekende goudontleder Eric Sprott dat dit so hoog soos tussen $72 en $100 triljoen kan beloop.  Die probleme kan dus selfs nog groter wees as wat dit tans lyk.

 

Węreldwyd word daar in finansiële en beleggingskringe bekommernis uitgespreek dat Amerika nie sy staatskuld sal kan betaal nie.  Die gewese president van die Amerikaanse Reserwebank, Alan Greenspan het onlangs byvoorbeeld gesę dat Amerika nie in staat sal wees om sy skuldverpligting na te kom nie en dit vergelyk met die Griekse staatskuldkrisis.

 

Die IMF is ook baie bekommerd.  In Augustus 2010 het hulle sekere projeksies oor die Amerikaanse  fiskale gaping gemaak wat die Bloomberg-verslaggewer tot die gevolgtrekking laat kom “that the IMF has effectively pronounced the US bankrupt”.  Die sogenaamde fiskale gaping is die verskil tussen die huidige waarde van geprojekteerde inkomste en uitgawes vir toekomstige jare.  Die Bloomberg-verslaggewer het dit bereken op $202 triljoen, meer as 15 keer die huidige amptelike staatskuld.

 

‘n Baie duidelike teken van bekommernis oor Amerikaanse staatskuld het baie onlangs van die kredietgraderingsagentskap Moody’s gekom toe hulle soos volg verklaar het:  “Although no rating is contemplated at this time, the time frame for possible future actions appears to be shortening, and the probability of assigning a negative outlook in the coming years is rising.”  Die invloedryke finansiële tydskrif The Financial Times  skryf dat Amerika ongeveer 40c leen van elke Rand wat hy spandeer en vervolg verder:  “If the political system cannot forge some kind of consensus or steps to restore US deficits to sustainable levels, the danger is potentially even greater:  a sovereighn debt crisis in the world’s largest economy.”  Volgens Moody’s is die verhouding van Amerikaanse staatskuld tot staatinkomste 426%, die hoogste van alle Aaa-gegradeerde lande, meer as dubbeld dié van Duitsland, Frankryk en Brittanje.  Moody’s het kort vantevore Japanse staatskuld afgegradeer. 

 

Die bogenoemde twee faktore tesame met ander faktore veroorsaak dat beleggersvertroue in die Dollar begin afneem en in ‘n steeds dalende tendens is.  Suggesties van ‘n alternatiewe geldeenheid word van tyd tot tyd gehoor.  Volgens Blanchard Gold het die Chinese president onlangs na die Dollar-oorheersde internasionale geldstelsel as ‘n produk van die verlede verwys.  Selfs die hoofde van die twee mees invloedryke internasionale finansięle instellings  naamlik die IMF en die Węreldbank het onlangs gesę dat goud ‘n plek in die węreld se geldstelsel behoort te hę. Die bekende goudontleder David Levenstein skryf in die Rand Refinery Daily Gold Update dat Rusland en China besluit het om hulle eie geldeenhede vir bilaterale handel te gebruik en nie meer die Dollar nie.  Volgens die Wall Street Journal het die Russiese sentrale bank onlangs gesę dat 100 ton goud elke jaar aangekoop gaan word om hulle goudreserwes aan te vul. Dit het ook  begin bekend raak dat Oosterse sentrale banke, wat meeste van hulle reserwes in Dollar hou, na alternatiewe instrumente begin omskakel en goud is een daarvan. Indien hulle op ‘n wesenlike skaal begin Dollars verkoop, kan dit die Dollar verder onder druk plaas.  Volgens ‘n Bloomberg-berig het die Dollar se huidige aandeel van 37% in nuwe reserwes reeds geval vanaf 63% in 1999. 

 

In sommige kringe is die Euro as ‘n alternatiewe reserwegeldeenheid gesien.  Die groot begrotingstekorte en reusagtige staatskulde in die Euro-lidlande soos Griekeland, Portugal, Spanje, Ierland en Italië sowel as die politieke skokke wat die Europese Unie enkele jare vantevore gekry het, het egter die potensiële status aan die Euro as reserwegeldeenheid ‘n knou gegee waarvan hy nie gou sal herstel nie.

 

Vanweë die insinking in die Japanse ekonomie gedurende die afgelope 20 jaar het die Jen ook nog nie sy status as ‘n reserwegeldeenheid herwin nie.   Japan se staatskuld is drie keer so groot soos sy jaarlikse BBP van $5 triljoen.

 

Die Węreld Ekonomiese Forum het voor sy jongste vergadering in Davos in ‘n verslag gesę dat die węreld in sy geheel aan ‘n hoë risiko van soewereine wanbetaling blootgestel is.  Dit lyk dus asof die omstandighede gunstig is vir goud om ‘n toenemende rol as reserwegeldeenheid te begin speel.

 

Ř  DIE INFLASIEKOERS

 

Die inflasiekoers dien as ‘n belangrike maatstaf vir die beoordeling van die wenslikheid van beleggings.  Indien die opbrengs van ‘n bepaalde belegging laer as die heersende of verwagte inflasiekoers is, sal dit sy aantreklikheid verloor omdat dit beteken dat die koopkrag van die belegging in relatiewe terme verminder.  In tye van stygende inflasie, wanneer die opbrengs op ander beleggingsbates tot onder die inflasiekoers daal, sal goud se aantreklikheid toeneem.  Dat inflasie ‘n invloed op die goudprys kan hę, is inderdaad so.  David Levenstein wys in ‘n artikel in Mineweb daarop dat, sedert die Tweede Węreldoorlog, gedurende die vyf jare van 1946, 1974, 1975, 1979 en 1980 inflasie op sy hoogste was in die VSA.   Gedurende hierdie vyf jare was die gemiddelde opbrengs op die Dow Jones –12% terwyl goud 130% opgelewer het.

 

In die nadraai van die kredietkrisis het inflasie tot rekordvlakke gedaal, veral in ontwikkelde ekonomieë.  Die skerp styging in hulpbronpryse gedurende die laaste helfte van  2010 en die herstel in verbruikersaanvraag het egter veroorsaak dat inflasie in verskeie ontwikkelende ekonomieë gestyg het en inflasieverwagtinge het begin vorm aanneem.  Dit kan die goudprys ondersteun.

 

 

Ř  BEWEGINGS IN DIE WAARDES VAN ANDER BELEGGINGSBATES

 

Die goudprys word beďnvloed deur die werklike en verwagte bewegings in die waardes van en opbrengste op ander beleggingsbates.  Indien dit in die geval van ander beleggingsbates styg of moontlik in die toekoms kan styg, sal die belangstelling in goud afneem en gevolglik ook die prys.  Die teendeel sal ook waar wees.  Die verwagte bewegings van  enkele bateklasse word hier in oënskou geneem.

 

·      Aandele

Prysbewegings van aandele word fundamenteel bepaal deur die werklike en verwagte verdienste-opbrengs.  Dit word op sy beurt weer bepaal deur ‘n aantal faktore waarvan ekonomiese groei die belangrikste is.  Die eindbepaler van ekonomiese groei is besteding deur huishoudings, regerings en sake-ondernemnings.  Die vraag is dus:  Gaan hierdie besteding binne die afsienbare toekoms plaasvind of nie?  Ons kan nie sien dat dit op ‘n beduidende skaal gaan gebeur nie.  Tog rapporteer maatskappye op ‘n volgehoue basis merkwaardige groei in verdienstes.  Dit veroorsaak dat beleggersentiment teenoor aandele positief is en verdere stygings in aandelepryse kan verwag word.  Dit kan weer meebring dat beleggings in goud, veral onder Westerse spekulatiewe beleggers, omgeskakel word na aandele, wat ‘n tydelike afwaartse druk op die goudprys kan plaas.

 

·         Staatseffekte

Rentekoerse op staatseffekte van Westerse regerings is op dekadeslange of selfs rekordlaagtepunte en vanweë die gedempte ekonomiese groei in hierdie lande is dit onwaarskynlik dat rentekoerse binne afsienbare toekoms beduidend sal styg.

 

·         Kontant

Alle beleggings in geldmarkte en by private banke word onder hierdie term ingesluit.  Soos in die geval van staatseffekte is bestaande en verwagte rentekoerse op laagtepunte en hierdie twee beleggings word tans nie gesien as mededingers vir goud nie.

 

·         Eiendomme

Opbrengste op eiendomme word hoofsaaklik bepaal deur huurwinste en kapitaalgroei.  Vanweë die beperkte vooruitsigte in ekonomiese groei is die verwagtinge vir opbrengste op eiendomme in Westerse lande, waar die grootste mark vir eiendomme is, nie baie goed nie.

 

·         Hulpbronne

Alhoewel hulpbronne soos basismetale, landbouprodukte, ens. nie in die beleggingsteorie as ‘n bateklas erken word nie, word groot bedrae geld deur middel van termynkontrakte in hulpbronne belę.  Die stygende hulpbronpryse kan ‘n beperkte mededinger vir goud word.

 

Ter opsomming kan gesę word dat die verwagte styging in aandele- en hulpbronpryse wel op die kort- tot middeltermyn ‘n demper op die goudprys kan plaas, veral sover dit Westerse beleggers betref.  Westerse goudbeleggers word egter relatief minder teenoor Oosterse beleggers en gevolglik ook hulle invloed op die goudprys.

 

 

Ř   ONSEKERHEDE

 

Wanneer onsekerhede op politieke en finansiële gebiede in die węreld intree, raak finansiële markte senuagtig en kan grootskaalse verkope van beleggingsbates plaasvind uit vrees vir moontlike finansiële verliese.  Dit het gebeur na die Asiatiese geldkrisis van 1998, die 11/9-gebeurtenis in New York en tydens die Irak-oorlog.  Die kredietkrisis van 2008/2009 het die grootste verliese in aandelepryse sedert die groot depressie van die 1930’s veroorsaak, terwyl die onsekerhede rondom groot staatskulde en begrotingstekorte in ontwikkelde ekonomieë gedurende die afgelope tyd die vertroue in geldeenhede soos die Dollar en die Euro erg ondermyn het.  Dit verhoog die vloei van beleggings na goud.  Behalwe die reedsgenoemde onsekerhede rondom geldeenhede en staatskulde was daar tot enkele weke gelede nie enige groot onsekerhede wat die goudprys opwaarts kon dryf nie. Dit het egter skielik verander met die politieke onrus in Tunisië, Egipte, Libië en ander Arabiese lande en die goudprys het skerp gestyg.

 

 

Ř  INDUSTRIËLE EN SEREMONIËLE VRAAG NA GOUD

 

Daar is altyd ‘n vraag na goud vir verwerking in juweliersware en ander nywerheidsprodukte, maar  dit het nie ‘n baie groot uitwerking op die goudprys nie.  ‘n Nuwe faktor het egter gedurende die afgelope aantal jare na vore getree.  Met die groot ekonomiese ontploffings in China, Indië en ander opkomende ekonomieë is daar nou baie meer mense wat goudjuwele koop as voorheen en die industriële vraag na goud kan ‘n groter invloed begin uitoefen as tevore.  Goud speel ook ‘n baie belangrike rol in huwelikseremonies en ander feeste in hierdie lande.

 

Ř  DIE AANBOD VAN GOUD

 

Die prys van enige produk of diens word bepaal deur die verhouding tussen die aanvraag en aanbod daarvan en soos hierbo uiteengesit, kan daar geen twyfel wees dat die aanvraag na goud besig is om uit verskeie oorde toe te neem nie.  Terselfdertyd het die aanbod gedurende die afgelope kwarteeu afgeneem.  Met verwysing na die verskaffers van goud soos vroeër in hierdie artikel genoem, kan die volgende inligting verskaf word:

 

-         Die verkope van goud deur sentrale banke was tot baie onlangs ‘n belangrike bron van voorsiening van goud aan die mark.  Dit het egter sedert 2008 ingrypend verander.  Verkope van goud deur sentrale banke in Westerse lande het vir die alle praktiese doeleindes tot stilstand gekom terwyl sentrale banke in Oosterse en Arabiese lande hulle goudreserwes met groot hoeveelhede aanvul.  Volgens Mineweb het sentrale banke in 2009 meer as 400 ton goud gekoop.  Die Chinese Sentrale Bank alleen het tussen 2003 en 2009 goudreserwes verhoog van 600 ton na 1000 ton en volgens Blanchard Gold  is daar ‘n koor van Chinese amptenare en adviseurs wat die regering aanmoedig om in goud te belę.  Mineweb berig dat die voorsitter van ‘n kommissie wat deur die regering aangestel is om die kwessie van goudreserwes te ondersoek, gesę het dat die kommissie voorgestel het dat goudreserwes in die volgende 3 – 5 jaar verhoog word na 6000 ton.  Dit is ook die hoeveelheid goud wat China nodig het om sy goudreserwes in lyn met dié van Westerse sentrale banke te bring.

 

-          Die ontginning van goud deur goudmyne het skerp afgeneem, hoofsaaklik vanweë die daling in die goudprys wat sedert die vroeg tagtigerjare ingetree het, alhoewel die goudprysstygings van die afgelope tyd die ontginning van goud meer finansieël lewensvatbaar gemaak het.  Dit neem egter lank om ‘n nuwe goudmyn in produksie te kry en produksiekostes is geweldig hoog, veral in Suid-Afrika waar goud baie diep onder die aarde uitgehaal word.  Daar word ± 2400 ton goud per jaar geproduseer.

 

-          Die stygende goudprys het herwinning van goud ‘n proposisie gemaak en heelwat goud kom op die wyse op die mark beskikbaar.  Dit kan by tye ‘n demper op die goudprys plaas, maar op die langtermyn is dit nie ‘n groot faktor nie.

 

v  BEWEGINGS IN DIE GOUDMARK

 

In die afdelings hierbo is hoofsaaklik gefokus op die aantreklikheid van ander beleggingsbates relatief tot goud.  In hierdie afdeling word gefokus op  enkele fasette van die goudmark self, naamlik aankope van goud, bewegings in die goudprys in vergelyking met dié van ander beleggingsbates en die verwagte prysbewegings oor die volgende jaar of twee.

 

 

Ř  GOUDAANKOPE

 

Mense wat in goud wil belę, kan goudstawe, goudmunte, aandele in beursverhandelde goudfondse,  goudmynmaatskappye of goudgebaseerde effektetrusts koop of dit bloot as juweliersware aanskaf.  Die inligting wat hieronder gegee word, is op ‘n lukraak basis uit die finansiële media geselekteer:

 

§ Die verkope van goudstawe en –munte het gedurende die afgelope twee jaar eksponensieël toegeneem.  Sommige vervaardigers van goudmunte moes by tye tydelik sluit omdat hulle nie aanvraag kon hanteer nie.  In Duitsland en Japan kan kleiner goudmunte by OTM’s gekoop word en in Indië by Poskantore.  Enkele syfers gee ‘n prentjie van die tendense:

 

-    Die Chinese regering loods voortdurende aksies om sy burgers aan te moedig om in goud te belę.  Per capita besteding op juweliersware en goudbeleggings het tussen 2000 en 2009 gestyg vanaf $2 tot $10.  Volgens Mineweb het Chinese goudinvoere in 2010 met 500% toegeneem en Indië s’n met 46%.

 

-    Die Switserse goudsmelter Argor Heraeus het in Junie 2010 bekend gemaak dat verkope van een-ons-goudstawe 10 tot 12 keer meer is as aan die begin van die jaar. 

 

-    Die Oostenrykse goudmunt (een van die vyf grootstes in die wëreld) se verkope van goudmunte het vanaf 137 000 in 2007 tot 1 600 000 in 2009 gestyg.

 

§ Tussen April 2006 en Maart 2011 het goud wat deur BVFe gehou word vanaf ±600 ton tot ±2024 ton toegeneem en dit was al so hoog soos 2114 ton.  In die eerste kwartaal van 2010 het dit alleen met 465 ton toegeneem.  Goud gehou deur SPDR Gold Trust, die grootste BVF in die węreld, het sedert die begin van die staatskuldprobleme in Griekeland in April 2010 gestyg van 1100 ton tot ±1300 ton.  Sedertdien het dit weer teruggesak.

 

 

Ř  BEWEGINGS VAN DIE GOUDPRYS IN VERGELYKING MET ANDER BELEGGINGSBATES

 

§ Vanaf die goudprys se laagtepunt van $256 per fynons in 2001 het dit gestyg tot sy intradag-hoogtepunt van $1445 op 7 Maart 2011,  dit wil sę met ±560%.   Dit is die metaal se beste prestasie sedert 1920.

 

§ In dieselfde periode het die Dow Jones aandele-indeks gestyg van ±8500 tot die huidige ±12000, dit wil sę met ±41%.  Dieselfde kan min of meer gesę word van die Britse en Europese beurse.  Die JSE het bietjie beter gevaar en gestyg vanaf ±10000 tot die huidige 32 000, dit wil sę met 220%.  Opbrengs op beleggings in Amerikaanse staatseffekte sou waarskynlik in die omgewing van 50% gewees het en in die geldmark nog minder.

 

§ Dis duidelik dat geeneen van die groot bateklasse ‘n belegging in goud kon klop oor die afgelope tien jaar nie.

 

§ Interessantheidshalwe, sedert Krugerrande in 1967 bekendgestel is, het die prys daarvan gestyg vanaf R27 tot die huidige ±R10 000.  Sedert President Nixon die Dollar in 1971 van goud ontkoppel het, het die goudprys gestyg vanaf $38 tot die genoemde $1445.

 

 

Ř  VERWAGTE PRYSBEWEGINGS

 

Kenners en spelers in die goudmark gee van tyd tot tyd hulle prysvooruitskattings vir die goudprys.  Hieronder volg enkele voorbeelde, wat op ‘n lukraak, sonder-om-uit-te-soek basis uit die finansiële media gedurende Januarie en Februarie 2011 geneem is:

 

 

Instansie

 

Persoon

 

Prys in Dollar

 

Tydsraamwerk

America Precious Metals Advisor

Jeff Nichols

1700

Einde 2011

MKS Finance

 

1780

Einde 2011

 

 

 

 

Religare Commodities

 

1600

Einde 2011

 

 

 

 

US Global Investors

Frank Holmes

2600

2016

 

 

 

 

David Hale Economics

David Hale

2000

2015

Gold Forecasters

Julian Phillips

2000

Einde 2011

 

 

 

 

-

Nick Barrisheff

2000

Einde 2011

 

 

 

 

-

Byron Wien

1600

Einde 2011

 

 

 

 

Newmont Mining

Richard O’Brien

1400

Einde 2011

 

Ene Weldes Wilder, ‘n Nieu-Seelander wat al deur Forbes en Baron’s geloof is vir sy vaardige markontledings het middel 2010 geskryf dat die goudprys binne twee jaar op $5000 per fynons kan staan. 

(Interessantheidshalwe, van die agt persone van wie ons vooruitskattings vir einde 2010 gelees het, was slegs 2 bokant die $1433 waarop die goudprys gaan draai het.)

 

v  RISIKO’S

 

Alhoewel die beleggingsverwagtinge rondom goud soos hierbo geskets realisties en op fundamentele faktore gebaseer is, sal niemand ‘n waarborg uitreik dat dit so sal realiseer nie.  In beginsel is daar dus risiko’s.  Die vraag is: Hoe groot is die risiko dat ‘n belegger sy kapitaal wat in goud belę is kan verloor?  Ons kan tussen ses vorms van risiko’s onderskei, naamlik ‘n intrinsieke risiko, ‘n prysrisiko,’n wisselkoersrisiko, ‘n institusionele risiko,‘n politieke risiko en ‘n persoonlike risiko.

 

·      Die intrinsieke risiko bestaan daarin dat goud fisies vernietig kan word, vergelykbaar met ‘n maatskappy wat bankrot gaan.  Dit kan nie gebeur nie.

·      Die prys van goud kan egter daal, soos wat dit al gebeur het.  Dit kan egter net gebeur as die huidige stel finansiële omstandighede wat die goudprys tans dryf skielik fundamenteel verbeter.

 

-    Daar is op die oomblik geen faktore wat die waarde van die vernaamste geldeenhede in die węreld beduidend kan laat toeneem nie. 

 

-    Die waarskynlikheid dat die inflasiekoers verder sal daal is baie gering.  Inflasie is in baie lande reeds op rekordvlakke en is in ‘n stygfase.

 

-    Daar kan wel ‘n vloei van beleggersfondse na aandele en hulpbronne plaasvind maar dis onwaarskynlik dat dit so sterk sal wees dat dit die goudprys baie skerp sal laat daal.

 

-    Dit is onwaarskynlik dat die toestande wat tans onsekerheid in die beleggingsmarkte veroorsaak, soos die staatskuldprobleme, die swak vertroue in papiergeld en die wankelende ekonomiese groei oornag sal verdwyn.  Dit is diepgesetelde, strukturele probleme wat oor ‘n lang tyd ontwikkel het en wat nie sommer sal ontknoop nie.

 

-    Industriële, juweliers- en seremoniële vraag na goud sal waarskynlik bestendig bly vanweë die stygende persoonlike inkomste in baie Oosterse lande.

 

-    Daar is geen rede om te dink dat die aanbod van goud beduidend sal toeneem nie.

 

·      Wisselkoerse kan verander, wat die prys van goud in ‘n bepaalde land nadelig kan beďnvloed.  Indien die Suid-Afrikaanse Rand byvoorbeeld versterk, kan dit alle goudbeleggings wat Suid-Afrikaners in Suid-Afrika hou nadelig beďnvloed.  Op hierdie stadium word die Rand allerweë as redelik sterk beskou en verdere versterking lyk onwaarskynlik.

 

·      Institusionele risiko’s bestaan daarin dat finansiële probleme kan ontstaan by die instellings deur wie goud gekoop kan word, hetsy deur swak bestuur of deur bedrog.

 

·      Politieke risiko’s kan ontstaan wanneer regerings ‘n nasionaliseringsbeleid instel of politieke toestande in ‘n land onstabiel raak.

 

·      Persoonlike risiko’s is geleë in die beleggingshorison van die belegger self.  Indien die belegging in goud oor ‘n lang termyn gedoen word, is die risiko baie gering.  Indien die beleggingstermyn te kort is, kan die belegger geld verloor, want korttermyndalings in die goudprys kan voorkom.  As die belegger in so ‘n daalfase vanweë persoonlike omstandighede gedwing word om sy belegging in goud te realiseer, kan daar vir hom verliese wees.

 

·      Geleentheidsrisiko’s kan nie heeltemal in dieselfde asem as die ander risiko’s genoem word nie, omdat dit nie op moontlike kapitaalverliese betrekking het nie.    Dit kan gebeur dat ‘n belegger, deur in goud te belę, die geleentheid mis om ‘n beter opbrengs op ander beleggings te verdien.    In Suid-Arika beloop opbrengskoerse in die geldmark, effektemark en genoteerde eiendomme tans tussen 6 – 8% persent maar dit kan verder daal en kapitaal is onderhewig aan infeasionęre erosie wat nie by goud die geval is nie.  Indien die huidige inflasiekoers van hierdie koerse afgetrek word, gee dit ‘n reële opbrengs van tussen 1,5% en 3,5%.  Daar is dus tans nie groot geleenthede om te mis deur in goud te belę nie.  Dit is egter wel moontlik om op die korttermyn kapitaalgroei op aandele en moontlike winste op hulpbronverhandelinge te verdien.

 

v  GOUD ‘N BELEGGINGSBORREL?

 

Vanweë die betreklike skerp styging in die prys van goud die afgelope tien jaar word die bekommernis soms uitgespreek dat goud ‘n beleggingsborrel is wat kan bars. Gebaseer op die stand van die fundamentele aandrywers van die goudprys soos hierbo geskets, is dit onwaarskynlik. Enkele syfers kan meer gerustelling hieroor gee. 

 

o   Indien die goudprys vanaf ‘n hoogtepunt van $850 per ons in 1980 teen die inflasiekoers oor die afgelope dertig jaar gestyg het, moes dit tans op ± $2 300 per ons gestaan het.

 

o   Die beleggingsmarkte is onderbelę in goud.  Tans is ± 1 % van alle finansiële bates węreldwyd byvoorbeeld in goudaandele en BVFe belę.  (Volgens ‘n Mineweb artikel ws die węreld se total finansiële bates in 2008 ongeveer $117 triljoen).  Slegs ‘n verdubbeling van 2% sal die aanvraag van goud laat toeneem met 85 000 ton, of ± 34 jaar se produksie.  In 1932 was 20% van finansiële bates in goed belę en in 1980 26%.  Die historiese gemiddeld beloop 5%.  Blanchard Gold bereken dat, as huidige portefeuljes tot die vlak verhoog word, dit die aanvraag na goud sodanig sal laat styg dat die prys tot $2000 sal klim.

 

o   Slegs 5% van gewone mense besit goud as belegging.  Die verteenwoordig ± 30 000 ton goud. Die węreld se totale bogrondse goud word op 100 000 tot 180 000 ton geskat.

 

o   Alhoewel die verkope van goudmuntstukke węreldwyd dramaties toegeneem het, is die jaarlikse verkope van Krugerrande deur Rand Refinery in Suid-Afrika tans nog steeds minder as die helfte van die jaarlikse verkope gedurende die 10 jaar van 1974 tot 1984.  Daar is dus nog glad nie ‘n stormloop na goud nie.

 

o   Tradisioneel was juweliersaanvraag na goud die hoofbron van goudaanvraag.  In die onlangse tyd het beleggingsvraag egter juweliersvraag verbygesteek en daar word beraam dat beleggingsvraag na goud nou 60% van alle aanvraag na goud verteenwoordig.  Die aanvraag kom veral uit Oosterse en Midde-Oosterse lande waar miljoene mense jaarliks toetree tot die meer welvarende middelklas en verbruikingsbesteding met spronge toeneem.   Tussen 2000 en 2009 het per capita verbruikbesteding inr China byvoorbeeld met 77% toegeneem.    Aangesien spaarkoerse in hierdie lande baie hoër is as in Westerse lande en verbruikers ook baie minder skuld het, is daar byna onbeperkte kontantfondse beskikbaar vir belegging in goud.  In ‘n onlangse  węreldwye opname oor beleggingsvoorkeure wat deur ‘n organisasie genaamd Ipsos onder 18094 beleggers gedoen is, het 75% van die respondente in Indië en Indonesië gesę dat hulle sal belangstel om in goud te belę.

 

Die goudontleder Julian Phillips som in ‘n Mineweb-artikel die moontlikheid dat ‘n goudborrel kan bars soos volg op:  “Using basic logic then we can only see a collapse in the gold price if the inherent value of both the euro and the dollar soar to unseen heights against the broad spectrum of assets, including gold.  Is this happening?  Is it likely to happen?  Would you place your trust in the euro or the dollar as an investment likely to take your wealth to new heights? More to the point, could we expect the Indian, Asian and Chinese investors to place their faith in these two currencies and away from gold?  Therein lies the answer to whether there will be a gold price collapse.”

 

In die algemeen kan gesę word dat die risiko verbonde aan ‘n belegging in goud nie hoër is as dié van ander bateklasse nie en dit kan verder verminder word deur die goeie bestuur daarvan.

 

 

v GOUD AS BELEGGINGSBATE

 

Ř   ALGEMEEN

 

Die voorgaande in ag genome is daar op hierdie stadium geen rede om te dink dat die prys van goud in die afsienbare toekoms wesenlik sal daal nie.  Die gevolge van die diep fundamentele veranderinge wat tans die goudprys dryf, moet waarskynlik nog in die toekoms in die goudprys weerspieël word en goud as ‘n beleggingsbate het waarskynlik nog nie sy ware glans gewys nie.  Goud in een of ander vorm  behoort dus ‘n plek in enige beleggingsportefeulje te hę.  Die keuse van beleggingsinstrumente sal bepaal word deur die beleggingsbehoeftes en risikoprofiel van die belegger en deur die heersende stand van sake en vooruitsigte in die goudmark.

 

Ř  DIE TIPIESE GOUDBELEGGER

 

Gegewe die beleggingsgeleenthede en –risiko’s verbonde aan goud soos hierbo geskets, kan die vraag gevra word: Hoe sal die tipiese goudbelegger lyk?

 

Soos enige ander belegger sal ‘n persoon wat ‘n belegging in goud oorweeg ook twee basiese behoeftes hę.  Hy wil nie graag sy kapitaal verloor nie en hy verlang ‘n billike opbrengs daarop.

 

‘n Persoon wat reken dat die risiko verbonde aan aandelebeleggings, veral in die huidige onseker beleggingsklimaat, groter as dié van goud is, sal in goud belę om sy kapitaal te beskerm.  Hy moet egter gewillig wees om ‘n langtermynsiening te neem en moenie paniekerig raak indien die goudprys vir korter tydperke daal of baie op en af beweeg nie.  Netso sal ‘n persoon wat twyfel oor die koopkrag van papiergeld ook graag goud in sy besit wil hę.

 

‘n Persoon wat reken dat die potensiële kapitaalgroei op ‘n belegging in goud meer kan wees as die opbrengs op enige ander belegging, sal ook in goud belę.  Hy moet egter rekening hou met die risiko dat dit dalk nie kan realiseer nie.  Persone wat nie sodanige risiko kan of wil neem nie, sal beter doen deur hulle geld in veilige geldmarkfondse of in bankdeposito’s by private banke met goeie balansstate te belę, alhoewel kapitale risiko’s in sulke gevalle ook nie heeltemal uitgesluit is nie.

 

Ř  HOE BELĘ ‘N MENS IN GOUD?

 

Daar is verskillende maniere om in goud te belę.  Dit word kortliks hieronder bespreek.

 

·     Goudmunte of goudstawe

 

    Indien ‘n mens in fisiese goud in Suid-Afrika wil belę, kan dit gedoen word deur die aankoop van Krugerrande en sekere versamelaarsmunte.  Die bekendste handelaar in hierdie munte is SA Gold Coin Exchange.  ‘n Persoon wat slegs een of twee Krugerrande wil besit, sal dit by so ‘n handelaar koop.  Persone wat groter hoeveelhede Krugerrande wil besit, kan dit by SA Bullion of Eerste Nasionale Bank doen.  Hulle verskaf ook bewarings- en versekeringsdienste.

 

·     Beursverhandelde fondse

 

    Beursverhandelde fondse werk min of meer dieselfde as effektetrusts.  Die fonds gebruik die geld om fisiese goud te koop en reik daarvoor aandele aan die beleggers uit.  Die prys van die aandele wissel saam met die goudprys.  In Suid-Afrika is daar slegs een sodanige fonds naamlik New Gold, wat deur Absa Capital geadministreer word.  Die aandele word in Rand geprys.  Absa Capital beplan om binnekort beursverhandelde fondse vir platinum en silwer te loods.  ‘n Mens kan ook deur Momentum of Rand Aksepbank aandele koop in Aliquot Gold Bullion wat in London gebaseer is.  Die aandele daarin kan in Dollars, Euros of Britse Ponde geprys word. 

 

·     Aandele in goudmynmaatskappye

 

Persone wat aandele in goudmynmaatskappye wil koop, kan dit deur makelaars doen. 

 

·    Effektetrusts

 

    Daar is twee effektetrusts in Suid-Afrika, naamlik Ou Mutual se Gold Fund en Stanlib se Gold and Precious Metals Fund wat hoofsaaklik in plaaslike en oorsese goudmynmaatskappye belę is.  Dan is daar Investec se Global Gold Fund wat in Brittanje gebaseer is en waarin ‘n mens deur middel van die R4 000 000 buitelandse beleggingstoelating kan belę.

 

·    Afgeleide instrumente

 

    Deur hierdie instrumente kan ‘n belegger deur baie klein bedrae blootstelling aan goud of goudaandele kry en op dié wyse kan opbrengs op kapitaal eksponensieël verhoog word.  Dis egter ingewikkelde beleggingsinstrumente waaraan beduidende risiko’s verbonde is.

 

    Die tipe instrument wat ‘n belegger sal gebruik om in goud te belę, sal afhang van onder meer sy behoeftes, persoonlike omstandighede, risikoprofiel, kennis van beleggingsmarkte en die grootte van die bedrag wat hy wil belę.

 

 

v  SAMEVATTING

 

Aan die begin van hierdie studiestuk is gesę dat die goudmark aan die hand van sekere temas geëvalueer sal word.  Hieronder volg die kerngevolgtrekkinge:

 

Ř   DIE AARD EN FUNKSIE VAN GOUD IN DIE FINANSIËLE MARKTE

 

Vanweë fundamentele en strukturele veranderinge in die węreld se finansiële stelsels gedurende die laaste dekade het goud almeer die karakter van ‘n beleggingsbate begin aanneem en word veral gesien as ‘n verskansing teen moontlike verliese in die waardes van ander beleggingsbates.  Verder word dit in ‘n toenemnde mate as ‘n moontlike internasionale betaalmiddel gesien.  Dit het onder andere die gevolg gehad dat sentrale banke verander het van netto goudverkopers na netto goudkopers.

 

Ř   DIE VERNAAMSTE ROLSPELERS IN DIE GOUDMARKTE

 

Die swaartepunt van aanvraag na goud het verskuif van die Weste na die Ooste en met die toenemende afname van vertroue in die Westerse geldstelsels sal hierdie tendens waarskynlik voortduur.  Namate welvaart in Oosterse lande toeneem, tree private beleggers in hierdie lande in groot getalle tot die goudmark toe.  Hulle koop goud eerder om te hou as om daarmee te spekuleer en dit neem baie goud uit die mark uit.

 

Op die verskaffingskant is goudmynproduksie besig om af te neem en die aanvraag/aanbod-gaping word steeds groter.  Saam met die verdwyning van sentrale banke as goudverkopers kan dit geweldige druk op die verskaffing van goud plaas en gevolglik ook op die goudprys.

 

 

Ř   DIE FAKTORE WAT DIE PRYS VAN GOUD IN DIE ALGEMEEN BEĎNVLOED

 

Die basiese faktore wat die goudprys in die algemeen bepaal, het nie wesenlik verander nie.  Sommige faktore  is egter besig om sterker na vore te treë as ander en beleggers sal hulle evalueringsmodelle en beleggingstrategieë moet aanpas by die nuwe  dinamiek wat besig is om te ontwikkel.

 

Ř   DIE VERNAAMSTE FAKTORE WAT VIR DIE HUIDIGE STYGING IN DIE GOUDPRYS VERANTWOORDELIK IS EN DIE VERWAGTE VOLHOUBAARHEID DAARVAN

 

Die belangrikste faktore wat tans die goudprys opwaarts druk, is die afnemende vertroue in ander internasionale geldeenhede, die groot staatskulde in Westerse lande, die stadig stygende inflasiekoers węreldwyd, die toetrede van groot getalle nuwe goudkopers in veral Oosterse lande tot die goudmark en die huidige politieke onrus in Arabiese lande.   Behalwe miskien vir die laasgenoemde faktor word dit allerweë verwag dat hierdie faktore nie gou sal verkwyn nie.  Die goeie vooruitsigte vir groei in aandelepryse in ontwikkelde lande kan die aanvraag na goud as beleggingsbate wel tydelik laat afneem.

 

 

Piketberg

11 Maart 2011

 

 

 

 

Hierdie inligtingstuk is daarop gerig om algemene inligting oor die goudmark aan besoekers aan ons webtuiste te verskaf.  Vir enige spesifieke beleggingsbesluite word professionele advies aanbeveel.  Lopende inligting en kommentaar oor goud as ‘n beleggingsbate sal DV in ons internet aktualiteitsoorsig Die Waardeskepper verskyn.  Lesers wat ‘n belegging in goud oorweeg of enige beleggingsadvies verlang, kan vir Frikkie Strauss kontak by 022 – 913 2391 / 082 4933 785 of by strausse@xsinet.co.za

 

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za