|
|
|
DIE WAARDESKEPPER
JUNIE 2010 _____________________________________________________________
Die Waardeskepper Kroniek is ‘n periodieke aktualiteitsoorsig waarin daar hoofsaaklik geskryf word oor onderwerpe wat verband hou met finansiële beplanning vir individue en besighede. Artikels is gewoonlik van tweeledige aard. Eerstens handel dit oor onderwerpe wat van algemene en aktuele belang vir ons kliënte en ander lesers van die Waardeskepper Kroniek is. Tweedens word daar berig oor nuwe professionele produkte en ander verwikkelinge by FJS Finansiële Dienste
In hierdie uitgawe word daar geskryf oor belastingbeplanningsgeleenthede wat trusts bied en ‘n belastingoudit wat deur FJS Finansiële Dienste gedoen word.
__________________________________________________
VERLAGING VAN MINDERJARIGHEIDSPERK
SKEP
Die verlaging van die minderjarigheidsperk van ouderdom 21 na 18 ongeveer drie jaar gelede het nuwe belastingbesparingsgeleenthede geskep wat slegs deur trusts benut kan word. Voor die besonderhede daarvan bespreek word, is enkele algemene opmerkings oor trusts egter nodig.
VERSPREIDING VAN INKOMSTE
Die primęre funksie van die trust as ondernemingsvorm is nie om belasting te bespaar nie. Trusts word hoofsaaklik gebruik vir die beskerming van bates teen skuldeisers en vir die bereiking van bepaalde boedelbeplanningsdoelwitte. Tog moet die belastingbeplanningsgeleenthede wat trusts bied, nie misgekyk word nie; trouens, onder bepaalde omstandighede kan dit die mees belastingdoeltreffende ondernemingsvorm wees. ‘n Trust bied die geleentheid om belasbare inkomste tussen verskillende belastingpligtiges te versprei omdat begunstigdes in ‘n trust inkomste kan ontvang sonder dat hulle nodig het om enige dienste daarvoor te lewer.
Die geleentheid soos hierbo geskets doen homself in verskillende omstandighede voor en kan die beste benut word in ‘n familie waar daar sommige familielede is soos studente, bejaardes en eggenotes wat min of geen inkomste verdien nie. In hierdie artikel neem ons die geval waar daar minderjarige studente in ‘n familie is as voorbeeld.
BENUT STUDIEGELDE OM BELASTING TE VERMINDER
Klas- en losiesgelde en ander studie-uitgawes kwalifiseer nie vir aftrekking teen belasbare inkomste in Suid-Afrika nie. Indien dit egter in die vorm van inkomstetoekennings aan begunstigdes in ‘n trust geëis word, kan belasting daardeur wesenlik verminder word. Die geleentheid sal egter net benut kan word waar daar inkomste-genererende bates in ‘n trust is of in ‘n trust geplaas kan word. Die student(e) word aangewys as inkomstebegunsdigde(s) van die trust en studiegelde word betaal uit die inkomste van die trust. Bedrae wat min of meer dieselfde as die studiegelde is, word dan aan hulle toegeken as inkomste. Die belastinggevolge daarvan sal soos volg wees: Die belasbare inkomste van die trust sal met die toekennings verminder word terwyl die toekennings, as dit minder as die belastingdrempel is en die student nie ander inkomste verdien nie, nie in sy naam belasbaar sal wees nie. Die huidige belastingdrempel beloop R57 000.
PRAKTIESE VOORBEELD
Die beginsels hierbo geskets kan soos volg in die vorm van ‘n praktiese voorbeeld met konserwatiewe veronderstellings geďllustreer word: ‘n Student studeer vir drie jaar aan ‘n Technicon en dit kos R50 000 per jaar terwyl sy pa se marginale belastingkoers op 30% staan. Indien hy sy kind se studiegelde uit sy eie, na-belaste inkomste sou betaal, sou dit vir hom geen belastingvoordeel inhou nie. As die studiegelde egter uit die inkomste van ‘n trust betaal word, kan die belastingbesparing R45 000 vir die drie jaar beloop. Indien die studiegelde meer beloop, die studiejare langer is en daar meer as een kind gaan studeer, kan die totale besparing aansienlik meer wees. Aan die hand van die voorgaande inligting sal elke persoon ‘n berekening van die moontlike belastingbesparings vir sy eie omstandighede kan maak.
Tipiese bates wat na ‘n trust oorgedra kan word, is vaste eiendomme wat huur verdien, beleggings wat rente verdien en besigheidsbates wat besigheidsinkomste verdien. Met die oordrag van bates na ‘n trust kan daar natuurlik blootstelling kom aan hereregte, BTW, inkomstebelasting, KWB, skenkingsbelasting en ook prokureurskoste. Die proses moet derhalwe op so ‘n wyse gehanteer word dat hierdie verpligtinge op minimum vlakke gehou kan word en bedrae wat moontlik so betaalbaar raak, moet by die koste van die proses in ag geneem word, terwyl die potensiële toekomstige belastingvoordele, sover dit boedelbelasting en KWB betref, ook in gedagte gehou word.
Daar is ‘n bepaling in die Inkomstebelastingwet wat die benutting van hierdie geleentheid in die verlede baie moeilik gemaak het. Die bepaling lui dat inkomstetoekennings uit ‘n trust aan minderjarige kinders in die naam van die ouer belas word indien die trustkapitaal deur die ouer voorsien is. Tot onlangs was kinders nog tot op 21 minderjarig en baie studente studeer net vir drie of vier jaar, waarna hulle hulle eie inkomste verdien. Die minderjarigheidsperk is egter nou 18 en dit veroorsaak dat die teenvermydingsbepaling hierbo genoem nie meer op inkomste ontvang deur die studente van toepassing is nie.
EERBIEDIG TRUSTBEGINSELS
Die proses wat hierbo beskryf word, moet met groot omsigtigheid hanteer word. Die wesenlike karakter van die trust as instelling moet nie geweld aangedoen word nie en die basiese trustbeginsels moet eerbiedig word. Verder moet die trust behoorlik ge-administreer word. By gebrek daaraan kan ‘n trust blootgestel word aan aanvalle deur derde partye, waarvan die Kommissaris ‘n baie vyandige een kan wees. Persone wat sodanige strukture oorweeg, word dus aangeraai om professionele advies in te win.
*******************************************************
BENUT
BELASTINGBEPLANNINGSGELEENTHEDE
Die meeste mense in Suid-Afrika betaal te veel belasting en hulle doen dit meestal uit onkunde. Hulle ken nie die belastingwette nie of hulle is nie op hoogte van die beskikbare belastingbeplanningsgeleenthede nie.
By FJS Finansiële Dienste het ons ‘n belastingoudit ontwikkel. Die doel daarvan is om deur middel van ‘n eenvoudige kontrolelys op sistematiese wyse enige swakhede in ‘n persoon se belastingmondering te openbaar en die nodige regstellings aan te beveel. Ten einde te verseker dat alle sleutelaspekte van belasting aangespreek word en dat geen geleenthede misgekyk word nie, word die definisie van belasting as basis vir die oudit gebruik. Dit lui soos volg:
Belasting is ‘n heffing deur die owerheid op die belasbare inkomste van ‘n bepaalde entiteit in ‘n sekere land vir ‘n gegewe periode. Belasbare inkomste is die verskil tussen die bruto inkomste en sekere aftrekbare uitgawes.
Die volgende is voorbeelde van sake waarna daar met die belastingoudit gekyk word:
· Daar word gekyk of inkomste in die mees belastingdoetreffende entiteit vir ‘n persoon se omstandighede ontvang word. Baie min klein ondernemers benut byvoorbeeld die belastingvoordele van kleinsake-ondernemings ten volle. Verder is daar min persone wat die belastingbeplanningsgeleenthede wat trusts bied, verstaan.
· In gevalle waar transaksies oor landsgrense plaasvind, word daar verseker dat al die beskikbare toegewings benut word.
· Tydsberekening kan ‘n groot verskil aan belasting maak en daarom kyk ons dat daar sover moontlik ‘n optimale verspreiding van inkomste en uitgawes oor verskillende belastingperiodes is.
· Ons probeer vasstel of dit nie moontlik is om die aard van die inkomstestrome sodanig te verander dat belasbare inkomstestrome in nie-belasbare inkomstestrome omskep kan word nie.
· Ons kyk of alle aftrekbare uitgawes ten volle benut word en of daar nie geleenthede bestaan om nie-aftrekbare uitgawes te omskep in aftrekbare uitgawestrome nie.
Die oudit word gewoonlik in twee fases gedoen. Eerstens word ‘n kort telefoniese oudit gedoen waarin daar aan die hand van ‘n aantal vrae bepaal word of daar wel belasting- beplanningsgeleenthede bestaan. Dit is gratis. Indien sodanige geleenthede wel bestaan, volg ‘n meer gedetailleerde oudit, wat ook aanbevelings vir regstellings en herstrukturering insluit. Na die eerste fase sal ons ‘n rowwe aanduiding kan gee van die potensiële belastingbesparings wat ‘n volledige oudit kan meebring, asook van die fooie verbonde daaraan.
‘n Belastingbeplanningsoudit kan vele voordele vir belastingbetalers inhou. Eerstens kan dit onmiddellike belastingbesparings meebring wat eksponensieël tot die koste van die oudit kan wees. Tweedens kan dit aan die belastingbetaler die gemoedsrus gee dat hy nie meer belasting betaal as wat hy wetlik verplig is nie. Derdens kan die oudit lei tot ‘n stimulering van skeppende denke wat die grense van gevestigde denkpatrone ver oorskry en oor jare tot enorme belastingbesparings kan lei. Voortvloeiend uit die oudit word ons belastingbeplanningsproses toegepas wat op ons webtuiste onder die opskrif. Belastingbeplanning : ‘n Baie winsgewende belegging verskyn.
Die Waardeskepper Kroniek word uitgegee deur FJS Finansiële Dienste. Die inligting is vir algemene gebruik en die redakteur kan nie verantwoordelik gehou word vir die gevolge van besluite wat op grond daarvan geneem word nie. Dit word aanbeveel dat professionele advies in verband daarmee ingewin word
FJS Finansiële Dienste lewer ‘n omvattende persoonlike en korporatiewe finansiële beplanningsdiens wat belasting- boedel-, beleggings-, eiendoms- en aftreebeplanning insluit. Die redakteur is Frikkie Strauss, professionele rekenmeester, belastingkonsultant en gesertifiseerde finansiële beplanner van Piketberg. Hy kan gekontak word by 022 – 913 2391 / 082 – 493 3785 of strausse@xsinet.co.za
Meer volledige inligting oor die dienste wat FJS Finansiële Dienste bied, verskyn op ons webtuiste by www.waardeskepper.co.za Vorige uitgawes van Die Waardeskepper kan ook daar gelees word.
ONS SKEP WAARDE DEUR KENNIS
|