DIE  KONTANTVLOEISKEPPER


DIE DINAMIESE BENUTTING VAN KREDIETBESTUUR VIR KONTANTVLOEIVERSTERKING

 

v     KREDIET : BEDREIGING OF GELEENTHEID?

 

Krediet het ‘n inherente deel van die ekonomiese lewe in ons moderne samelewing geword en die wyse waarop dit bestuur word, is deurslaggewend vir die finansiële welslae van sake-ondernemings.

 

Swak kredietbestuur is die vernaamste oorsaak van gebrekkige kontantvloei en is een van die hoofoorsake van finansiële ondergang van ondernemings.  Daarteenoor kan die vindingryke, positiewe benutting van krediet ‘n bron van winsgewindheid en welvaart wees.  FJS Finansiële Dienste kan sake-ondernemings help om dit te vermag.

 

v     PRIMÊRE DOELWITTE

 

In ons vryemarkstelsel is dit die hoofdoelwit van enige onderneming om wins vir sy eienaar te maak.  Om dit reg te kry, moet produkte en dienste verkoop word en betaling moet daarvoor ontvang word maar ‘n verkoopstransaksie is eers werklik voltooi as die geld ontvang is.  Dis waar goeie kredietbestuur inkom.

 

v     UITDAGINGS VAN KREDIETBESTUUR

 

Die primêre uitdaging van kredietbestuur is om verkope in die korts-moontlike tyd in kontant te omskep.  Daarvoor is sekere sisteme en meganismes onontbeerlik en dit is met die instelling en instandhouding daarvan dat FJS Finansiële Dienste  sake-ondernemings kan bystaan.  Vir doeleindes hiervan onderskei ons tussen kredietverlening en kredietbeheer.

 

Ø         Kredietverlening

 

Doeltreffende kredietbestuur begin by kredietverlening en daarvoor is die volgende nodig:

 

-         n Metode om die kredietwaardigheid van potensiële kliënte te bepaal, om met hulle oor kredietterme ooreen te kom en die nodige inligting te bekom wat noodsaaklik is vir latere invordering.

-         n Beleid om kortings vir kontant en vroeë vereffening, deposito’s en rente op agterstallige rekeninge maksimaal te benut om vroeë betaling te ontvang.

-         n Benaderingswyse om te verseker dat die proses van die toestaan van krediet benut word om ‘n produktiewe, hartlike en blywende besigheidsverhouding met  kliënte te bou.

 

Ø         Kredietbeheer

 

Goeie kredietbeheer bestaan uit die volgende elemente:

 

-         Korrekte fakturering en lewering van rekeninge:  ‘n Sisteem om te verseker dat kliënte korrek en tydig gefaktureer word en dat korrekte rekeningstate op ‘n gereelde basis uitgaan, is die basis van enige kredietbeheerstelsel.

-         Die neem van aksie op agterstallige rekeninge:  Daar moet gevestigde prosedures en invorderingsmeganismes wees wat op ‘n konsekwente en gedissiplineerde wyse toegepas word.

-         Bestuursbetrokkenheid:  Sonder aktiewe bestuursbetrokkenheid stort die meeste kredietbestuurstelsels in duie.  Kredietbestuursdoelwitte moet gestel en gekontroleer word.  Dit behels onder andere die handhawing van optimale verhouding tussen debiteure en omsette, doelwitte vir die ouderdom van debiteure en vir die minimalisering van slegte skulde

 

v     WAT BEHELS FJS FINANSIËLE DIENSTE SE KONTANTVLOEISKEPPER EN HOE KAN SAKE-ONDERNEMINGS DAARUIT VOORDEEL TREK?

 

Sover dit kredietverlening betref, behels dit hoofsaaklik die opstel en/of verdere verfyning van ‘n gestandardiseerde aansoek om krediet en die implementering van werksmetodes en prosedures om te verseker dat goeie verhoudings met voornemende kliënte van die begin af gebou word, dat kredietterme duidelik verstaan word en dat invordering vinnig en doeltreffend kan geskied indien daar nie by die terme gehou word nie.

 

Op die gebied van kredietbeheer behels dit eerstens die instelling van ‘n akkurate faktureringstelsel ten einde dispute tot die minimum te beperk.  Tweedens behels dit die instel van prosedures vir spoedige en kliënt-vriendelike invordering van agterstallige rekeninge ten einde slegte skulde tot die minimum te beperk. Derdens word bestuur bemagtig deur die instelling van ‘n vaartbelynde verslagdoening-sisteem.  Dit maak dit moonltlik om spoedige aksie te neem ingeval van ‘n verswakking in die kwaliteit van die debiteure.  Vierdens word die nodige indiens-opleiding aan personeel gegee sodat hulle weet wat hulle verantwoordelikhede behels.

 

v     ALGEMEEN

 

Die gebruikmaking van ons kontantvloeiskepper kan aan enige ondernemer die gemoedsrus gee dat sy kredietbestuur op ‘n vaste fondament staan en hom nie in die steek sal laat in slegte ekonomiese tye nie.

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za