Die Waardeskepper

                                KOLLIG OP FINANSIËLE BEPLANNING

 

OKTOBER 2011

 

 
 

Die Waardeskepper is ‘n periodieke aktualiteitsoorsig waarin daar hoofsaaklik geskryf word oor onderwerpe wat verband hou met finansiële beplanning vir individue en besighede.   Artikels is gewoonlik van tweeledige aard.  Eerstens handel dit oor onderwerpe wat van algemene en aktuele belang vir ons kliënte en ander lesers is.  Tweedens word daar berig oor nuwe professionele produkte en ander verwikkelinge by FJS Finansiële Dienste. 


In hierdie uitgawe:

 

·     BELEGGINGS :  ‘n Globale verwysingsraamwerk

Die basiese elemente van die globale beleggingsomgewing en hulle onderlinge wisselwerking.

 

·     BOEDELBEREDDERING : Deeglike voorbereiding die sleutel tot spoedige afhandeling van boedel

Die tweede in ‘n reeks van drie artikels oor beplanning vir die boedelberedderings-proses.

 

 

 

******************************************

 


BELEGGINGS

 

‘N GLOBALE VERWYSINGSRAAMWERK

 

v   INLEIDING

 

Die onstabiliteit en onstuimigheid wat die laaste aantal jare in die wêreld se finansiële en beleggingsmarkte geheers het, is vir meeste private beleggers baie verwarrend.  Hierdie artikel is ‘n poging om bietjie lig te werp op die basiese elemente waaruit die beleggingsomgewing bestaan en hulle onderlinge wisselwerking.  Ons vertrou dat dit aan private beleggers ‘n konteks sal bied om hulle te help om besluite oor hulle eie beleggings te maak en om beleggingsadvies wat hulle ontvang te beoordeel.

 

Die globale beleggingsindustrie staan op sekere grondslae, funksioneer volgens sekere meganismes en word aangedryf deur sekere diepliggende kragte.  In die volgende paragrawe sal die belangrikste hiervan in die algemeen geïdentifiseer word, die werking daarvan bespreek word en die invloed daarvan op beleggingsprestasies verduidelik word.  Daar word hoofsaaklik gefokus op aandelebeleggings, hetsy in direkte vorm of in indirekte vorm deur middel van effektetrusts.

 

Die volgende word genoem:

 

·             Maatskappye, maatskappyverdienstes, aandelewaardes en-pryse.

·             Die ekonomie en ekonomiese aktiwiteite.

·             Die geldstelsel, inflasie, deflasie en wisselkoerse.

·             Skuld, likiditeit en rentekoerse.

·             Nie-fundamentele faktore.

·             Demografiese faktore.

·             Die verrassingselement.

 

 

v   MAATSKAPPYE, MAATSKAPPYVERDIENSTES, AANDELEWAARDES EN –PRYSE

 

Die primêre drywer van aandelepryse is maatskappyverdienstes.  Dit stel ‘n maatskappy in staat om dividende aan sy aandeelhouers te betaal en die vermeerdering van die netto batewaarde van die maatskappy wat sy winste meebring, veroorsaak dat beleggers bereid is om ‘n hoër prys vir sy aandele te betaal.  Indien dit verder blyk dat ‘n maatskappy se aandeelprys relatief laag is in verhouding tot sy prys-verdienste-verhouding of sy prys-tot-bate-verhouding, kan dit skerp stygings in sy prys tot gevolg hê.  Indien die teenoorgestelde blyk, kan dit skerp dalings tot gevolg hê.

 

Maatskappywinste is primêr die verskil tussen inkomstes en uitgawes van maatskappye.  Dit word weer beïnvloed deur ‘n aantal sekondêre faktore wat in die volgende afdelings bespreek word.   Aandelepryse kan egter ook beïnvloed word deur sekere ander faktore wat vir korter of langer tye die werking van hierdie faktore heeltemal kan oorskadu.  So byvoorbeeld het die Dow-Jones indeks die hele afgelope dekade maar met ongeveer 30% gestyg terwyl maatskappye wat op hierdie indeks genoteer is fenominale winste gemaak en goeie dividende betaal het. 

 

 

v   DIE EKONOMIESE STELSEL EN EKONOMIESE AKTIWITEITE

 

Sonder ‘n doeltreffend-funksionerende ekonomiese stelsel kan daar geen sprake van ‘n beleggingsindustrie wees nie.  Beleggings is slegs moontlik waar daar ‘n vloei van kapitaal  is van die mense wat daaroor beskik na ondernemers wat dit benodig.  Beleggingsopbrengste word bepaal deur die winste wat  maatskappye (ondernemers) maak.  Die primêre drywer van die winste van maatskappye is die verkope van hulle produkte en dienste.   Daarvoor moet daar ‘n aanvraag wees.  Die hoofkategorieë van kopers van maatskappye se produkte en dienste is private huishoudings, regerings en ander maatskappye.  Indien daar ‘n toename in besteding deur hierdie drie sektore is, sal maatskappye se winste styg, en andersom.  Hierdie toename of afname word gewoonlik met die term ekonomiese groei  beskryf.  Die verwagtinge van beleggers hieroor word normaalweg in aandelepryse weerspieël.

 

 

v   DIE GELDSTELSEL, INFLASIE, DEFLASIE EN WISSELKOERSE

 

Die wêreld se geldstelsel bied die meganismes waardeur verhandeling van goedere en dienste en die vloei van beleggingsfondse kan plaasvind, sowel as ‘n meganisme waardeur daar ‘n waardebepaling van hierdie goedere, dienste en beleggingsfondse gemaak kan word.  Elke land het sy eie geldeenheid en die relatiewe waardes van hierdie geldeenhede teenoor mekaar staan bekend as wisselkoerse.  Fundamenteel word hierdie wisselkoerse bepaal deur die relatiewe koopkrag van die geldeenhede teenoor mekaar, alhoewel daar  in praktyk baie faktore is wat die koopkragverhouding kan versteur.  Die aanvraag wat daar onder sekere omstandighede vir spesifieke geldeenhede mag bestaan, is een van die belangrikstes hiervan.  Indien die koopkrag van geld afneem, staan dit bekend as inflasie en as dit toeneem, staan dit bekend as deflasie.

 

Die uitwerking van inflasie op maatskappywinste is van direkte en indirekte aard.  Die verhoging in pryse veroorsaak aanvanklike stygings in maatskappywinste en gevolglik ook  in aandelepryse.  Op die langtermyn kan dit egter deur die indirekte uitwerking geneutraliseer word.  Die verhoging in die pryse van verbruikersgoedere kan die bestedingsvermoë van verbruikers, regerings en ander maatskappye inkort en buitengewone prysstygings kan die wêreld se geldstelsels ontwrig, sowel as maatskaplike en politieke onrus veroorsaak.  Daarom is regerings gewoonlik gou om op inflasiestygings te reageer.  Dit geskied meestal deur middel van rentekoersverhogings deur die sentrale banke.  Die verhoging in rentekoerse het weer verdere gevolge, wat in die volgende afdeling bespreek sal word.

 

Indien ‘n land se inflasiekoers op ‘n relatiewe basis wesenlik hoër as ander lande s’n is, verswak sy wisselkoers gewoonlik in beginsel.  Rentekoersverhogings wat daarop volg kan egter die verswakking teenwerk, omdat dit buitelandse beleggings aantrek.  ‘n Styging in die inflasiekoers laat ook by mense die vrees ontstaan dat die koopkrag van hulle rentedraende beleggings verteer kan word en dit laat hulle kyk na alternatiewe beleggings soos goud, metale en vaste eiendomme, met ‘n gevolglike styging in die pryse daarvan.

 

‘n Wisselkoersverswakking of versterking kan ook ‘n uitwerking hê op die pryse van ‘n land se uitvoerprodukte in die buiteland en ook op die prysmeededingendheid daarvan.  Dit kan weer maatskappywinste en aandelepryse beïnvloed.

 

Deflasionêre toestande het gewoonlik die teenoorgestelde uitwerking as inflasionêre toestande en kan ook politieke en maatskaplike onrus veroorsaak omdat die skerp daling in die pryse van produkte en dienste armoede kan veroorsaak.  Regerings reageer gewoonlik daarop deur die geldvoorraad te verhoog.  Dit kan ook die waarde van ‘n land se geldeenheid laat verswak.

 

Die posisie van die Amerikaanse Dollar as die mees prominente en likiede geldeenheid in die wêreld en die feit dat verreweg die meeste internasionale transaksies in Dollar plaasvind, veroorsaak dat enige wesenlike versterking of verswakking in die waarde van die Dollar ‘n baie groter uitwerking op beleggingsmarkte het as enige ander geldeenheid.  Dit is op die oomblik ‘n strukturele eienskap van die wêreld se geldstelsel en moet by die oorweging van enige beleggingstrategie in aanmerking geneem word.

 

Vir Suid-Afrikaners is die waarde van die Rand natuurlik van groot belang.  Dit bepaal onder andere die pryse wat maatskappye vir hulle uitvoerprodukte ontvang, dit wat huishoudings vir ingevoerde gebruiksartikels betaal, die prys van brandstof, die opbrengs op buitelandse beleggings en ook die inflasiekoers.

 

 

v   SKULD, LIKIDITEIT EN RENTEKOERSE

 

Skuld het ‘n inherente deel van die wêreld se ekonomie, sy geldstelsel en sy beleggingsindustrie geword.  Die vlakke daarvan, die beskikbaarheid daarvan (likiditeit) of die prys daarvan (rentekoerse) sal waarskynlik vir baie lank nog ‘n steeds groterwordende invloed op beleggingsprestasies uitoefen.  Huishoudings, maatskappye en regerings gaan skuld aan om hulle kapitale en lopende uitgawes te finansier. Die skuld word hoofsaaklik verskaf deur banke, beleggingshuise, pensioenfondse en private geldskieters.

 

Gedurende die afgelope ongeveer veertig jaar, sedert die VSA in 1971 van die goudstandaard afgestap het, het skuldvlakke in al die bogenoemde kategorieë drasties toegeneem.  Volgens beramings beloop huisverbande in Amerika alleen ongeveer $13 triljoen terwyl die Amerikaanse staatskuld reeds meer as $14 triljoen beloop en steeds styg.  Die huidige waarde van globale staatskuld word deur verskeie beramings op tussen $70 en $90 triljoen geplaas. 

 

Vanweë die algemene wêreldwye ekonomiese vooruitgang die afgelope ongeveer drie dekades het dit nie ‘n probleem veroorsaak nie, omdat skuldenaars oor die algemeen in staat was om hulle skuldverpligtinge na te kom en skuldvlakke het steeds bly styg.  In 2008/2009, met die kredietkrisis in Amerika, is die onhoudbaarheid van hierdie hoë skuldvlakke vir die eerste keer geopenbaar.  Dit het geblyk dat die nodige terugbetaalvermoë vir Amerikaanse huislenings nie bestaan nie en die finansiële gevolge daarvan sowel as die uitwerking op beleggingsmarkte is geskiedenis.

 

Sover dit maatskappyskuld betref, is die algemene konsensus onder finansiële ontleders dat dit onder beheer is.  Tog kan rentekoersverhogings maatskappywinste onder druk plaas en gevolglik ook aandelepryse.  Die staatskuldposisie is egter ‘n perd van ‘n ander kleur, bloot vanweë die ysingwekkende omvang daarvan, soos hierbo aangehaal.  Vanweë die genoemde ekonomiese voorspoed van die afgelope drie dekades kon regerings voldoende belastings invorder om hulle skuldverpligtinge te delg.  Die ekonomiese insinking wat die wêreld sedert die Amerikaanse kredietkrisis beleef het en die uiters stadige pas van herstel sedertdien het staatsinkomste onder druk geplaas.  Die eerste tekens van nie-nakoming van staatsverpligtinge het in 2010 in Griekeland uitgeslaan en daar is tans wêreldwye bekommernis oor ander lande soos Ierland, Spanje, Portugal en selfs Italië, die derde grootste ekonomie in Europa.  Laasgenoemde se staatskuld beloop reeds €1900 miljard.

 

Die besuinigingsmaatreëls wat regerings dwarsoor die wêreld instel om hulle skuldverpligtinge na te kom en die noodwendige afname in staatsbesteding wat dit behels, kan ook maatskappy- en huishoudelike inkomste onder druk plaas.  Dit kan hulle bestedingsvermoë beperk, met die gevolglike stagnasie in ekonomiese groei, maatskappy-inkomstes en ook aandelepryse.  Indien hierdie regerings nie hulle skuldverpligtinge kan nakom nie, kan die gevolge meer dramaties wees.  Banke, beleggingshuise en pensioenfondse wêreldwyd is van die grootste leners aan regerings.  ‘n Mens kan net dink watter paniek kan ontstaan indien hierdie instansies nie hulle verpligtinge teenoor die publiek kan nakom nie, omdat regerings versuim om hulle skulde terug te betaal.

 

 

v   NIE-FUNDAMENTELE FAKTORE

 

Die faktore wat hierbo bespreek is, kan beskou word as die fundamentele, langtermyn drywers van beleggingsprestasies.  Daar is egter ook faktore wat die werking van hierdie drywers op die kort- en mediumtermyne kan ontwrig.  Sentimente van oor-optimisme of -pessimisme kan aandelepryse bokant of onderkant hulle fundamentele waardes laat beweeg.  Spekulante wat hoë volumes aandele koop of verkoop om voordeel uit buitengewone prysbewegings te trek, kan dieselfde veroorsaak.  Die ontkropening (?) van spekulatiewe posisies kan somtyds ook skerp bewegings op beleggingsmarkte veroorsaak.  Dit is ook moontlik dat aandelepryse deur die ingrype van groot, internasionale rolspelers in die beleggingswêreld kunsmatig hoog of laag gehou kan word.  Verskuiwings wat groot internasionale fondsbestuurders maak, kan batepryse ook beduidend beïnvloed.  Daar word bereken dat internasionale fondsbestuurders ongeveer $60 triljoen onder hulle beheer het.  Die rol wat seisoenale faktore in batepryse speel, moet ook nie misken word nie.  Die verskynsel dat aandelepryse byvoorbeeld in die laaste helfte van ‘n jaar begin styg om teen Maart/April die volgende jaar hulle piek te bereik, kom algemeen voor.  Verder kan die poliiteke beleide van regerings beleggers ook aanmoedig of ontmoedig om in sekere lande te belê en in die algemeen vertroue by beleggers skep of ondermyn.  Gebrek aan sterk politieke leierskap op ekonomiese en finansiële terreine, kan beleggersvertroue ook ondermyn, so ook geo-politieke onsekerhede.  In die algemeen skep onsekerhede baie onstabiliteit en onstuimigheid in beleggersmarkte.  ‘n Sorgsame beleggingsbestuurder sal sy oog op hierdie faktore hou sonder om oordrewe aandag daaraan te gee.

 

 

v   DEMOGRAFIESE FAKTORE

 

Veranderings in die karakter, samestelling en lewenswyses van die bevolking van lande het ook ‘n invloed op beleggingsopbrengste.  Die uitwerking daarvan strek egter oor geslagte en selfs eeue en word nie hier in berekening gebring nie.

v   DIE VERRASSINGSELEMENT

 

Onvoorsiene gebeure, wat die logiese werking van bogenoemde faktore beduidend kan ontwrig, vind van tyd tot tyd plaas.  Voorbeelde daarvan is oorloë in die Midde-Ooste, die11/9-terreuraanval en die onlangse aardbewing en tsunami in Japan.  Die beleggingsbestuurder moet daarvoor paraat wees en dit op die mees oordeelkundige wyse hanteer wanneer dit plaasvind.

 

 

v   OPSOMMING

 

Beleggingsprestasies word bepaal deur ‘n wisselwerking tussen die faktore hierbo bespreek.  Daar is onderlinge kousale verhoudings wat manifesteer in sekere ekonomiese en finansiële wetmatighede.  Dit moet op die veranderende werklikhede in die globale beleggingsomgewing toegepas word.  Die kuns van beleggingsbestuur bestaan daarin om hierdie wetmatighede reg te verstaan en ‘n toekomsbeeld te vorm wat ‘n hoë waarskynlikheid op realisering het.

 

In die volgende uitgawe van Die Waardeskepper sal ons prober om die breë beginsel soos hierbo verduidelik toe te pas op die huidige situasie in die finansiële en beleggingsmarkte.

 

 

*****************************************************

 

BOEDELBEREDDERING

 

DEEGLIKE VOORBEREIDING DIE SLEUTEL TOT SPOEDIGE AFHANDELING VAN BOEDEL

 

In die vorige uitgawe van Die Waardeskepper het ‘n artikel verskyn oor die rol wat goeie boedelbeplanning in die boedelberedderingsproses  speel.  In hierdie artikel word die noodsaaklikheid van deeglike boedelvoorbereiding bespreek.

 

Die boedelberedderingsproses bestaan basies uit die volgende fases:

 

 

-     Die aanmelding van die sterfte, die indiening van die inventaris van boedelbates en die aanvaarding van eksekuteurskap.

 

-     Die uitreiking van die eksekuteursbrief deur die Meester van die Hoë Hof.

 

-     Die plaas van kennisgewings aan potensiële krediteure.

 

-     Die oopmaak van ‘n bankrekening vir die boedel en die betaling van boedelskulde en –kostes.

 

-     Die opstel en indiening van die likwidasie- en distribusierekening.

 

-     Die plaas van kennisgewings aan die belanghebbende partye dat die likwidasie- en distribusierekening by die Meesters- en die landdroskantoor ter insae lê.

 

-       Die verkry van Meestersgoedkeuring dat die likwidasie- en distribusierekening aanvaar is en die verdeling van die boedelbates tussen die erfgename.

 

Volledige dokumentasie is van kritieke belang vir die spoedige afhandeling van ‘n boedel.  Die volgende drie kategorieë van dokumente word benodig :  Boedel- dokumente, persoonlike dokumente en bewyse van boedelbates en –laste.

Eersgenoemde twee kategorieë sluit oa. die testament, trustakte(s), ID-dokumente en huweliksertifikaat in.  Laasgenoemde verwys hoofsaaklik na die volgende tipe dokumente:

-     Titelaktes

-     Beleggingsertifikate

-     Versekeringspolisse

-     Bewyse van finansiële verpligtinge

Hierdie dokumente moet deur die boedeleienaar in ‘n veilige plek bewaar word waaroor sy naasbestaandes ingelig is sodat die eksekuteur maklik sy hand daarop kan lê wanneer sterfte intree.

 

Die likiditeitsposisie  van ‘n boedel is ‘n ander belangrike aspek van boedel-voorbereiding.  As daar nie voldoende kontant of kontantekwivalente bates in die boedel is om die boedelkostes en –laste te betaal nie, sal vaste eiendomme dalk te gelde gemaak moet word om kontant te voorsien.  Dit  kan die boedelberedderings-proses lank uitrek en tot skade lei as bates verkoop moet word op ‘n tydstip wat marktoestande nie gunstig is nie.

 

In die algemeen word die afhandeling van ‘n boedel baie vergemaklik en bespoedig indien daar tussen ‘n boedeleienaar en sy beoogde erfgename openhartige vooraf oorlegpleging plaasvind.

 

Die laaste artikel in hierdie reeks oor boedelbereddering sal handel oor die keuse van ‘n eksekuteur.

 

******************************************************

 

 

Die Waardeskepper word uitgegee deur FJS Finansiële Dienste.  Die inligting is vir algemene gebruik en die redakteur kan nie verantwoordelik gehou word vir die gevolge van besluite wat op grond daarvan geneem word nie.  Dit word aanbeveel dat professionele advies in verband daarmee ingewin word.

 

FJS Finansële Dienste  lewer ‘n omvattende persoonlike en korporatiewe finansiële beplanningsdiens wat belasting- boedel-, beleggings-, eiendoms- en aftreebeplanning insluit.  Die redakteur is Frikkie Strauss, professionele rekenmeester, belastingkonsultant en gesertifiseerde finansiële beplanner van Piketberg.  Hy kan gekontak word by 022 – 913 2391 / 082 – 493 3785 of strausse@xsinet.co.zaVorige uitgawes van Die Waardeskepper kan daar gelees word.

 

 

 

ONS SKEP WAARDE DEUR KENNIS

 

 

 

 

Description: C:\Websites\waardeskepper\px\hr.gif

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za