DIE BASIESE BEGINSELS VAN ‘N TESTAMENT

 

VERANDERINGS IN BELASTINGWETGEWING, TOENAME IN EIENDOMS-WAARDES, ONTWIKKELINGE OP DIE GEBIED VAN REGSPRAAK EN OP DIE TERREINE VAN BOEDELBEPLANNING- EN BEREDDERING IN SA VEROORSAAK DAT DIE OPSTEL VAN ‘N TESTAMENT NIE MEER SO ‘N EENVOUDIGE SAAK IS  SOOS WAT DIT ‘N PAAR JAAR GELEDE WAS NIE, SELFS VIR ‘N RELATIEWE EENVOUDIGE BOEDEL.  DIE OPSTEL VAN TESTAMENTE WORD MEESTAL DEUR PROFESSIONELE PERSONE GEDOEN MAAR BY GEWONE MENSE IS DAAR OOK DIE BEHOEFTE OM MEER TE WEET AANGAANDE DIE BASIESE BEGINSELS EN WERKING VAN ‘N TESTAMENT.  HIERDIE ARTIKEL IS ‘N POGING OM AAN HIERDIE BEHOEFTE TE VOLDOEN.

 

v           AGTERGROND

 

Die opstel en uitvoering van testamente geskied binne ‘n statutêre raamwerk waarin ‘n hele aantal wette ‘n rol speel.  Die volgende is van die belangrikstes: 

Wet op Testamente, Boedelwet, Boedelbelastingwet, Wet op Intestate Erfopvolging.  Dit bepaal onder andere die geldigheidsvereistes vir ‘n testament, skryf voor hoe boedels afgehandel moet word, bepaal hoe die boedelbelasting bereken moet word en ook wat met ‘n persoon se bates moet gebeur as hy nie ‘n geldige testament het nie.

 

v          DIE WESE VAN DIE TESTAMENT

 

n Testament is ‘n dokument waarin ‘n persoon (die erflater) verklaar wie (die erfgenaam) sy besittings (die erflating of boedel) moet kry of wat daarmee moet gebeur.  Hy stel ‘n eksekuteur aan om met die boedel te handel en die testament moet deur getuies onderteken word. In wese is dit ‘n meganisme waardeur bates by afsterwe van een persoon(e) aan ‘n ander persoon(e) oorgedra word met die mins- moontlike lewensontwrigting vir afhanklikes en teen die laagsmoontlike koste.  Dit vorm die sentrale dokument in enige boedelplan. In die volgende paar paragrawe sal die wesenselemente van ‘n testament in meer besonderhede bespreek word.

 

v          DIE DOKUMENT

 

Vir ‘n testament om geldig te wees, moet dit in skriftelike formaat wees, op elke bladsy deur die erflaters(s) geteken word  in die teenwoordigheid van twee getuies wat dit ook moet teken.  In die aanhef word gewoonlik gesê wie die erflater(s) is en dit het ook standaard praktyk geword om te dat alle vorige testamente herroep word.  Dit moet in baie duidelike verstaanbare taal opgestel word.

 

v          DIE ERFLATER

 

·         Die name van die erflater(s) moet duidelik uit die testament blyk.

 

·         Die erflater(s) kan ‘n man of vrou of ‘n egpaar wees.  In laasgenoemde geval word ‘n gesamentlike testament opgestel en word daar gewoonlik gesê op welke wyse hulle getroud is.

 

·         In die geval van ‘n gesamentlike testament word daar gewoonlik gesê wat gebeur by die dood van die eerssterwende, by gelyktydige afsterwe en by die afsterwe van die langslewende.

 

 

v            DIE ERFGENAME EN ERFLATINGS

 

·         Erfgename sowel as die besittings wat aan hulle bemaak word, moet baie duidelik in ‘n testament gespesifiseer word sodat dit nie vir die eksekuteur moeilik is om hulle te identifiseer by afsterwe nie.

 

·         n Erflater het volkome testeervryheid.  Daar is nie voorgeskrewe reëls wat voorskryf aan wie en hoe sy bates bemaak moet word nie.

 

·         Daar is primêr twee soorte erfgename, naamlik legatarisse en “gewoneerfgename.  n Legataris is ‘n persoon aan wie ‘n voorafbemaking gedoen word en “gewoneerfgename deel in die restant van die boedel na aftrekking van die boedelverpligtinge.

 

·         Die moontlike erfgename wat benoem kan word is legio.  Hieronder volg enkele voorbeelde:

 

-    die langslewende gade erf alles;

-    die boedelbates word onder ‘n rits legatarisse verdeel;

-    ‘n gedeelte word aan besondere legatarisse bemaak, die res aan die langslewende gade;

-    voorsiening word vir die langslewende gemaak en die restant word in trust vir die kinders bemaak;

-    die goedere word aan die kinders bemaak onderhewig aan ‘n vruggebruik,  fideicommissum of die die verpligting om jaargelde te betaal;

-    n gedeelte, of al die bates word aan liefdadigheidsinstansies bemaak.

 

·        n Testament kan ook ‘n wye reeks bepalinge bevat oor die wyse waarop daar met die erflatings gehandel moet word. Daar kan byvoorbeeld bepalings wees oor:

 

-    bestaande of potensiële minderjariges;

-    vervanging van erfgename indien ‘n bedoelde erfgenaam nie sy voordeel kan ontvang nie;

-    bedrae wat bevoordeeldes aan die erflater skuld;

-    die skepping van testamentêre trusts vir minderjarige of ander afhanklike erfgename;

-    bestaande en toekomstige potensiële huwelike van erfgename;

 

·        Die keuse van erfgename en die wyse waarop besittings bemaak word, kan deurslaggewend vir die boedelbelasting- en KWB-verpligtinge van die boedel wees.

 

v          DIE EKSEKUTEUR

 

Die eksekuteur is die persoon wat moet toesien dat die testament uitgevoer word en dat erfgename hulle erflatings ontvang op die wyse soos in die testament bepaal.  Dit is baie noodsaaklik dat ‘n eksekuteur aangewys word, want by gebrek daaraan sal die Meester van die Hoë Hof ‘n eksekuteur aanwys, wat baie onsimpatiek teenoor die erfgename kan wees of bloot net nie vir die taak bevoeg is nie.

 

n Individu of ‘n regspersoon kan as eksekuteur aangestel word. Meer as een eksekuteur kan aangestel word en daar kan ook plaasvervangers aangewys word.  Die naam van die eksekuteur moet in die testament self ingeskryf word.  Behalwe die basiese funksies van die eksekuteur kan wyer magte ook aan hom verleen word, soos byvoorbeeld om die bestaande besigheid of boerdery van die oorledene voort te sit.

 

Daar is geen vaste reël vir die aanstelling van ‘n eksekuteur nie.  Indien daar by die erflater onsekerheid bestaan oor wie hy moet aanstel, is die advies gewoonlik dat die langslewende gade of ‘n lid of lede van die gesin aangestel moet word.  So ‘n leke-aanstelling het baie meriete omdat die eksekuteur(s) dan opdrag vir die afhandeling van die boedel kan gee aan ‘n persoon of instansie in wie die eksekuteur(s) volle vertroue het en met wie hulle oor die fooie kan onderhandel.  Word die vertroue geskok, kan die boedel natuurlik weggeneem word en in die hande van iemand geplaas word wat die werk wel kan doen.

 

v          DIE GETUIES

 

Elke bladsy van die testament moet deur die erflater in die teenwoordigheid van twee getuies, wat ook moet teken waar die erflater se handtekening voorkom, geteken word.  Die laaste bladsy moet aan die einde daarvan assulks onderteken word.  Wat die getuies betref, moet in gedagte gehou word dat hulle persone moet wees wie se name nie in die testament voorkom nie ook nie gades van sodanige persone nie.

 

v     ALGEMEEN

 

Vir die meeste mense is die opstel van ‘n testament ‘n redelike passiewe, vervelige handeling, iets wat maar net gedoen en so gou as moontlik agter die rug gekry moet word.  As die basiese doelstellings met die opstel van ‘n testament soos hierbo genoem egter bereik wil word, sal die aksie intelligente denke, sorgsaamheid en professionele hulp verg.

 

PIKETBERG
Adres: Langstraat 101, Posbus 339, Piketberg, 7320
Tel: (022)  913 2353/913 2391 | Faks: (022)  913 1482 | Sel: 082  493 3785
E-pos: strausse@xsinet.co.za