codeOutsideHTMLIsLocked="false" -->
|
|
| DIE
GRONDBEGRIPPE VAN TRUSTS DIE TRUST AS ONDERNEMINGSVORM HET GEDURENDE DIE
AFGELOPE AANTAL JARE BAIE IN GEWILDHEID TOEGENEEM. VIR GEGEWE OMSTANDIGHEDE HET DIE TRUST BESLISTE VOORDELE BO ANDER ONDERNEMINGSVORMS SOOS
EENMANSAKE, VENNOOTSKAPPE, BESLOTE KORPORASIES EN MAATSKAPPYE. TOG WORD DIE
VOORDELE DAARVAN NOG DEUR RELATIEF MIN MENSE BENUT, HOOFSAAKLIK VANWEË
ONKUNDE. DIE BASIESE INLIGTING, WAT
MENSE NODIG HET OM TRUSTS TE VERSTAAN EN OPTIMAAL TE BENUT, WORD IN HIERDIE
ARTIKEL VERSKAF. v
AGTERGROND Die trust is waarskynlik die oudste
ondernemingsvorm wat ons ken. Dit het
min of meer gedurende die 16de eeu in Brittanje sy
beslag gekry, maar sy diepste wortels kan reeds sover soos die 11de eeu
teruggespoor word. Met die tweede
Britse besetting van die Kaap in 1806 het dit deel van die Suid-Afrikaanse
ekonomiese lewe en regstelsel geword en is geleidelik geïntegreer by die
bestaande regstelsel naamlik die Romeins-Hollandse stelsel. Met die instelling van die Wet op die
Beheer van Trustgoed nr 57 van 1988 is daar gepoog om ‘n mate van
wetgewende beheer oor die gebruik van trusts te bring. v
DIE WET OP DIE BEHEER VAN TRUSTGOED NR 57 VAN 1988 Die Wet op die Beheer van
Trustgoed (hierna genoem “die Wet”) skep die statutêre raamwerk
waarbinne trusts in Suid-Afrika bedryf word en is hoofsaaklik daarop gerig om
beheer oor trustees uit te oefen ten einde die belange van die begunstigdes
te beskerm. Dit bepaal onder andere
dat die trustakte by die Meester van die Hoë Hof ingedien moet word, dat die
Meester ‘n magtigingsbrief moet uitreik, dat hy sekuriteit van die
trustees kan eis, dat hyself trustees kan aanstel, dat die bates van die
trust apart van die bates van die trustees gehou moet word en dat die Meester
van die trustees rekenskap oor die bestuur van die bates van die trustees kan
vra. Dit bevat ook bepalings oor die
ontheffing, bedanking en vergoeding van trustees en
oor die beëindiging van die trust. v
DIE WESE VAN DIE TRUST Die wese van ‘n trust
bestaan daarin dat een persoon (die oprigter) eiendom (die trustbates) oordra
aan die sorg van ‘n tweede persoon (die trustee) om tot voordeel van
‘n derde persoon (die begunstigde) gehou te word en wel volgens sekere
voorafooreengekome vereistes (die trustakte).
In die volgende paar afdelings sal die
wesenselemente van ‘n trust in meer besonderhede behandel word. v
DIE OPRIGTER Die oprigter is die persoon wat die inisiatief
met die oprigting van die trust neem.
Sy omstandighede sal tipies van so ‘n aard wees dat ‘n
trust ‘n bepaalde doel kan dien in sy finansiële en boedelbeplanning. Dit sal onder andere gebeur wanneer die
oprigter eiendom aan iemand wil oordra terwyl daardie persoon volgens die
mening van die oprigter nog nie in staat is om die eiendom self te beheer en
te bestuur nie. Wanneer iemand se kind
byvoorbeeld gestremd is, sal hy die erflating van
daardie kind in trust plaas. Daar kan baie ander oorwegings
soos die beskerming van bates teen krediteure en die besparing van boedel-,
inkomste- en kapitaalwinsbelasting wees. v
DIE TRUSTBATES Die trustbates sal tipes bates
wees wat aan die oprigter behoort wat hy om een of ander rede na die trust
wil oordra. Dit is meestal vaste
eiendom, maar kan ook items wees soos aandele, effektetrusts, vaste
deposito’s by banke, ens., en die trustakte bepaal baie keer dat die
inkomste uit die bate aan ‘n afhanklike van die oprigter sal
toeval. Die bates kan óf aan die trust
geskenk óf verkoop word óf dit kan deur ‘n testamentêre bemaking
oorgedra word aan die trust. v
DIE TRUSTEES Die trustees is die persone aan wie die
beheer en bestuur van die trustbates toevertrou word. Hulle kan natuurlike of regspersone
wees. Die Wet stel geen vereistes
waaraan trustees moet voldoen om aangestel te word
nie, maar bepaal wel onder welke omstandighede ‘n trustee verwyder kan
word. Dit is hoofsaaklik wanneer hy
aan ‘n ernstige misdaad skuldig bevind is,
wanneer hy gesekwestreer word of wanneer hy geestelik versteurd of swaksinnig
raak. In die trustakte kan verdere redes vir die verwydering van ‘n
trustee bygevoeg word. Daar is ook geen voorskrifte oor
die getal trustees nie. Trustaktes bevat egter gewoonlik bepalings
daaroor en in baie gevalle word byvoorbeeld bepaal dat die trustees
nie minder as drie of meer as vyf mag wees nie. Trustees
is normaalweg familielede of vriende van die oprigter wat hy
kan vertrou om die trustbates volgens sy wense en in belang van die
begunstigdes te bestuur. Dit het egter
redelike algemene praktyk geword dat ‘n professionele persoon, wat nie
aan die oprigter verwant is nie, as ‘n trustee aangestel word. Nie alleen kan dit verseker dat die
trustbates goed bestuur word nie, maar verleen ook die nodige onafhanklikheid
aan die trustees. v
DIE BEGUNSTIGDES Die begunstigdes is die persone wat die
voordele moet kry uit die bates wat die oprigter oorplaas na die trust toe.
Dit kan spesifieke individue of groepe van individue wees. Hulle word deur
die oprigter aangewys en so in die trustakte gestipuleer. Begunstigdes val in twee kategorieë,
naamlik kapitaalbegunstigdes en inkomstebegunstigdes. Kapitaalbegunstigdes raak gewoonlik by die
plaasvind van een of ander gebeurtenis (soos die bereiking van ‘n sekere
ouderdom) op die bates van die trust geregtig terwyl die inkomstebegunstigdes
die inkomste uit die bates in die trust ontvang. Dit is interessant om te weet dat daar niks
in die Wet is wat verhoed dat die oprigter ook ‘n trustee en ‘n
begunstigde kan wees nie. v
DIE TRUSTAKTE Die trustakte vorm die grondslag van enige
trust. Daarin bepaal die oprigter hoe
daar met die trustbates gehandel moet word.
Die trustakte bevat bepalings oor die aanstelling en afdanking van trustees en oor hulle pligte en bevoegdhede. Dit bepaal wie die begunstigdes is en ook
op welke wyse die trustbates aan hulle toegeken en/of deur hulle benut kan
word. Verder bevat dit ook bepalings
oor die beheer en bestuur van die trustbates gedurende die bestaan van die
trust. Om regsgeldigheid te hê, moet
die trustakte by ‘n kantoor van die Meester van die Hoë Hof
geregistreer word. Daar word dan
‘n Meestersmagtiging uitgereik waarop die name van die trustees verskyn. v
TIPE TRUSTS Trusts kan volgens verskillende
klassifikasiereëls in verskillende kategorieë ingedeel word. Slegs die twee belangrikstes word hier
behandel. Ø
Ontstaansbron ·
Testamentêre trust Hierdie soort trust word
kragtens ‘n testament opgerig en kom tot stand wanneer die erflater te
sterwe kom. Dit word gewoonlik gebruik
wanneer ‘n broodwinner wil verseker dat die bates wat hy aan sy
agtergeblewe afhanklikes nalaat so bestuur word dat hulle die volle voordeel
daarvan geniet. ·
Die inter vivos trust Die
inter vivos trust (ook genoemde lewende trust) kom gedurende die lewe van die
oprigter tot stand. Die besparing van
boedelbelasting en die beskerming van bates teen krediteure is van die
belangrikste redes vir die oprigting van so ‘n trust. Wanneer die oprigter sterf, kan dit
dieselfde doel as ‘n testamentêre trust dien. Ø
Diskresie van trustees ·
Vestigingstrust In so ‘n trust vestig die
voordele uit die trust in spesifieke begunstigdes en dit word in die
trustakte gestipuleer. Daar sal
byvoorbeeld bepaal word dat ‘n spesifieke persoon by die bereiking van
‘n spesifieke ouderdom op ‘n spesifieke bate geregtig sal
word. Die trustees
moet die bepalings in die trustakte nougeset uitvoer en min of geen diskresie
word hulle toegelaat nie. ·
Diskresionêre trust In hierdie geval mag die trustees hulle diskresie in die toekennig van
trustvoordele aan begunstigdes gebruik, natuurlike met inagneming van die
bepalings van die trustakte. v
DIE VOORDELE VAN TRUSTS EN DIE GELEENTHEDE WAT DIT
BIED Trusts as ondernemingsvorm het baie voordele
wat ander ondernemingsvorme nie het nie.
Enkeles word hieronder genoem: §
Trusts is
minimaal gekodifiseer. Dit
beteken dat dit nie aan baie wette en regulasies onderworpe is nie. Die Wet op die Beheer van Trustgoed het
byvoorbeeld net 27 artikels teenoor die Wet op Beslote Korporasies se 83
artikels en die Maatskappywet se 443.
Dit moet bygesê word dat die Wet nie die enigste raamwerk is waarbinne
trustees funksioneer nie. Soos met
meeste ander sake word daar ook gesteun op
hofuitsprake om regsbeginsels vir trusts te vind. Die trust bly
nogtans ‘n baie veelsydige instrument met baie buigsaamheid en
aanpasbaarheid vir verskillende behoeftes en omstandighede. §
Trusts is baie
geskik vir die beskerming van bates teen skuldeisers. Waar die persoonlike bates van direkteure
van maatskappye en lede van beslote korporasies nog aangetas kan word as
gevolg van sekere handelinge met betrekking tot die maatskappy of BK is dit
veilig in ‘n trust. Slegs die
persoon se leningsrekening in die trust, as daar so-iets bestaan, kan opgeroep word vir die betaling van skulde. §
Dit verleen kontinuïteit by sterfte. ‘n Trust se
bestaan is nie aan die leeftyd van die oprigter, die trustees of die
begunstigdes gekoppel nie. Dit het
‘n nimmereindigende bestaan. As
‘n persoon te sterwe kom en sy bates is in
‘n trust is, daar minimale ontwrigting van die lewens van
agtergeblewenes sover dit hulle geldsake betref. Die vloei van inkomste na
die begunstigdes gaan voort en word nie ontwrig deur persoonlike
bankrekeninge wat gevries word of ‘n uitgerekte
boedelberedderingsproses nie. §
Dit het baie belastingvoordele -
Boedelbelasting Wanneer bates gedurende ‘n persoon se lewe oorgedra
word na ‘n trust vind daar geen verdere groei meer in die persoon se
eie boedel plaas nie. Slegs die bedrag
van die leningsrekening, indien enige, vorm deel van
sy boedelbates. Saam met die besparing
van boelbelasting gaan daar baie keer ook ‘n besparing aan
eksekuteursfooie. Deur kundige
benutting van die geskenkebelastingvrystelling van R100 000 per jaar kan die
leningsrekening oor ‘n tydperk ook wesenlik verminder word en of selfs
heeltemal uitgewis word. -
Inkomstebelasting Alhoewel die koers waarteen
trusts belas word (40%) die hoogste van alle belastingentiteite is, kan die
inkomste tussen die begunstigdes verdeel word, wat wesenlike
belastingbesparings kan meebring, veral as daar kleinkinders van die oprigter
tussen die begunstigdes is. Die feit
dat inkomste van die trust sy karakter behou wanneer dit aan die begunstigdes
uitgekeer word, is ook ‘n voordeel.
As rente-inkomste van die trust byvoorbeeld aan die begunstigdes
uitgekeer word, sal die begunstigdes ook die normale rentevrystellingstelling
ontvang. -
Kapitaalwinsbelasting Soos by inkomstebelasting is trusts ook onderhewig aan die
hoogste KWB-koers maar KWB kan op dieselfde wyse tussen begunstigdes verdeel
word en só kan dit wesenlik verminder word. -
Geskenkebelasting Wanneer bates uit ‘n
trust aan begunstigdes toegeken word, is daar geen geskenkebelasting nie. -
Sekondêre belasting
op maatskappye Anders
as maatskappye en BK’s is trusts nie onderhewig aan SBM op
kontantuitkerings wat byvoorbeeld aan die oprigter of aan begunstigdes gedoen
word nie. v
NADELE EN GEVARE VERBONDE AAN TRUSTS Daar is nie baie nadele verbonde
aan trusts nie en die gevare is hoofsaaklik in die misbruik van trusts
geleë. Enkeles word genoem, met die
stappe wat geneem kan word om die nadele of gevare te beperk. ·
Die oprigter staan besit van en beheer oor sy bates
af.
Dit geld natuurlik net in die geval van ‘n inter vivos trust.
Dit is onvermydelik dat, ten einde die voordele van ‘n trust te bekom,
die oprigter besit van sy bates afstaan.
Ø
Daar kan ongelukkig niks
daaraan gedoen word nie. Hy kan egter
nog ‘n groot mate van beheer oor die bates behou en dit sal grootliks
afhang van sy keuse van die trustees en sy reëlings en verhoudings met hulle ·
Die bestaan van die trust kan
deur teenpartye of die Ontvanger geïgnoreer word. Dit kan gebeur as
dit blyk dat dit net ‘n skema is om sekere oogmerke te bereik sonder
dat dit enige substansie het. Ø
Die trust moet op so
‘n wyse opgerig en bestuur word dat daar nie twyfel oor die egtheid
daarvan kan wees nie. Dit moenie ‘n skyntrust wees
nie. In hierdie verband kan die volgende riglyne gegee word: -
Die oordrag van bates van die oprigter na die trust moet nie net teoreties van aard wees
nie. Dit moet praktiese gestalte
kry. Bates, soos eiendomme, beleggings
ens., moet fisies in die naam van die trust oorgedra
en geregistreer word, waar toepaslik. -
Die oprigter kan nie
voortgaan om die bates te beheer en te bestuur asof niks gebeur het nie. Dit moet nou deur die trustees
gedoen word. Oor belangrike sake moet
formele trusteebesluite geneem en genotuleer word en die trustees behoort
sekere magte en bevoegdhede formeel aan die oprigter te
verleen, waar van toepassing. -
Die opening van ‘n bankrekening vir die
trust, waardeur sy transaksies gekanaliseer word, sal verdere geloofwaardigheid
aan sy afsonderlike bestaan verleen. -
Die trustees moet kan
bewys dat hulle selfstandig is en nie net rubberstempels van die oprigter
nie. Daarvoor kan dit goed wees as ten
minste een van die trustees ‘n onafhanklike, professionele persoon,
soos ‘n rekenmeester of prokureur is, iemand wat kennis van die
administrasie van trusts het. Hy
moenie ‘n begunstigde van die trust wees nie
en verkieslik ook nie ‘n familielid van die oprigter nie. -
Vir die trustees om die verantwoordelikheid wat
hulle ingevolge die trustakte opgelê is, te kan nakom, moet hulle ten minste
‘n basiese kennis van trustbeginsels en praktyke hê. -
Daar moet ‘n behoorlike boekhoustelsel vir
die trust wees en die boeke moet verkieslik deur
‘n kundige, onafhanklike persoon nagegaan en korrek gesertifiseer
word. Die Wet vereis nie dat dit
‘n geoktrooieerde rekenmeester moet wees nie. Die finansiële state van die trust moet aan
die trustees voorgelê word en dit moet deur hulle
onderteken word. -
In die geval van ‘n trust met veelvuldige
bates en begunstigdes kan die aanstelling van
‘n professionele trust-administrateur oorweeg word. ·
Die bestaan van toerekeningsreëls kan onvoorsiene inkomstebelastingverpligtinge
meebring. Ten
einde te verhoed dat inkomste na gades of
minderjarige kinders oorgedra word, is Art.7 in die Inkomstebelastingwet
ingevoeg. Sodanige inkomste word dan
aan die oorspronklike ontvanger daarvan toegeken. Hierdie en ander
toerekeningsreëls is ook op trusts van toepassing. Ø
Ten einde nie in die slaggat te trap dat sekere
belastingbesparingsaksies deur die Ontvanger geweier word nie, moet trustees
op hoogte wees van die belastingwetgewing wat op trusts betrekking het en as
hulle dit nie self het nie moet hulle die dienste van ‘n professionele
persoon daarvoor bekom. ·
Veranderinge in omstandighede kan
trustaktes nutteloos of ondoeltreffend maak.
Ø
Trustaktes moet op ‘n deurlopende basis
hersien word ten einde te verseker dat die bepalings daarvan relevant tot die
omstandighede en behoeftes van die trustpartye bly. ·
Dispute tussen die trustpartye kan
probleme veroorsaak. Indien
daar na die oprigting van die trust enige
familie-dispuut ontstaan, soos byvoorbeeld ‘n egskeiding, kan dit die
bepalings van die trustakte prakties onuitvoerbaar maak. Ø
Die oprigter moet familie-omstandighede deeglik by
die oprigting van die trust ondersoek. v
DIE TOEKOMS VAN TRUSTS Daar bestaan ‘n redelik
wyd verspreide persepsie onder die publiek dat die toekoms van trusts in die weegskaal
is en dat dit selfs moontlik in Suid-Afrika afgeskaf kan word, omdat dit deur
baie mense vir belastingdoeleindes misbruik word. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat trusts
afgeskaf sal word of dat daar selfs aan die wesenlike karakter daarvan gepeuter
sal word. Die trust is ‘n
internasionale regsfiguur en speel veral in die Engelstalige wêreld ‘n
belangriker rol in die ekonomiese lewe.
Daar lê waarskynlik reeds miljarde Dollars van die rykste en magtigste
mense op aarde in trusts en dit sal vir enige regering groot risiko’s
inhou om aan hierdie instelling te probeer peuter. Dit is byna ondenkbaar dat die ANC-regering
in Suid-Afrika dit sal waag! Dit is
wel moontlik dat belastingwetgewing op trusts strenger kan raak, maar met die
nodige kennis en vindingrykheid van denke kan die bedreigings wat daardeur
geskep word grootliks te bowe gekom word. v
ALGEMEEN Soos uit die voorgaande blyk, is die trust ‘n baie dinamiese regs- en
ekonomiese instrument. Dit bied
veelvuldige toepassingsmoontlikhede op vele terreine van
die ekonomiese en persoonlike lewe. Ten spyte van wetgewende maatreëls
wat die gebruik van trusts minder aantreklik maak, bly dit nog die mees
doeltreffende instrument vir die besparing van verskillende tipe
belastings. Vir persone met baie bates
of ‘n hoë inkomste sal dit beslis die moeite werd wees om goeie
professionele advies oor die gebruiksmoontlikhede van trusts in te win. Junie 2008
PIKETBERG |